
Bayer CropScience wil sy voetspoor in Afrika aansienlik vergroot en een van die oplossings vir dié uitdagende mark is om produkte in kleiner, en meer bekostigbare, verpakkings te versprei.
Benewens ’n groter teenwoordigheid in meer lande, ’n goeie saadportefeulje en pogings om die miljoene kleinboere in Sub-Sahara-Afrika te bereik, ontwikkel die maatskappy ook ’n produkportefeulje vir kleinboere.
“Nuwe produkte word net een of twee jaar na dit in Europa vrygestel is, na Afrika gebring, so daar is ’n sterk vloei van innovasie na Afrika. Produkinnovasie is egter nie al wat ons nodig het nie. Ons moet ook fokus daarop om aan kleinboere in Afrika verpakkings te gee in groottes wat aan hul behoeftes voldoen,” het Erich Bureau, hoof van ontwikkeling in Afrika, aan Landbouweekblad in Monheim, Duitsland gesê.
Die maatskappy het dus met klein ampules (4-15ml) vorendag gekom wat vooraf gekalibreer en geskik is vir rugsak-spuite (met die kapasiteit vir sowat 15 l).
“Die kleinboere het dikwels nie genoeg kontant om ’n 1l-houer te koop nie en weet ook nie hoe om te bereken hoeveel genoeg is wanneer dit gemeng word nie. Die verpakking is maklik om te gebruik, veilig en goedkoop.”
Dis reeds in Zimbabwe en Malawië beskikbaar. Produkte is gemik op ’n breë spektrum gewasse, soos aartappels, kassawe en rys, en het ’n lae toksisiteit.
“Dit is duurder om te vervaardig en die eenheidsprys is ook duurder, maar die boere het nie $20-30 nie, maar wel $1 en daar is geen nodigheid om ’n oop bottel te berg (soms in die kombuis!) nie.” Syngenta het ook ’n soortgelyke verpakking.