
Die gesamentlike Afrika-forum van agribesighede en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, bekend onder die akroniem Jadafa, het ’n nuwe webblad bekend gestel wat Suid-Afrikaanse landbou-ondernemings kan help in hul besluite oor beleggings in en handel met Afrika.
Die webblad www.jadafa.co.za is so ontwerp dat dit vir besoekers maklik is om hul weg te vind na verskillende Afrika-lande se profiele, sê mnr. Tinashe Kapuya, bestuurder van internasionale handels- en beleggingsinligting van die landbousakekamer Agbiz, een van Jadafa se vennote.
Elke landsprofiel sluit kort maar omvattende inligting in oor die land se makro-omgewing, kommoditeite, lewende hawe, statistieke en kontakte.
Inligting oor 12 Afrika-lande is beskikbaar, maar profiele oor nog lande word voortdurend ontwikkel.
Op die webblad kan ’n mens ook inligting vind oor handelsooreenkomste, handels- en nywerheidsbeleidsrigtings en toekomstige gebeure.
Die webblad sal gereeld met nuus en inligting bygewerk word om agribesigehde te help met inligting oor beleggingsgeleenthede op die vasteland.
Buiten Agbiz is die ander vennote in Jadafa die departement, die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) en die onderneming Spear.
Kapuya kan gekontak word by tinashe@agbiz.co.za.