Verlede jaar was 'n besonder goeie jaar vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, maar die siklus is besig om te draai, sê mnr. Jac Laubscher, groepekonoom van Sanlam.
Hy het op 'n inligtingsdag van die Inmaakvrugte-produsentevereniging (IPV) op Worcester gesê toe die rand op sy swakste was 'n paar jaar gelede, het talle sektore bloot aanvaar dat die geldeenheid verder sal verswak en hul beplannings daarvolgens gedoen. "Wisselkoersbewegings is egter altyd 'n bron van risiko en beslis nie iets waarop die wins van die toekoms op geprojekteer moet word nie."
Volgens hom was 2005 'n uitstekende jaar vir die land se ekonomie, maar daar het wanbalanse in die ekonomie opgebou en risiko's is nie versigtig genoeg bestuur nie. "Nou bevind beleidmakers hulle as 't ware tussen die duiwel en die diep blou see," het Laubscher gesê.
"In 2005 het ekonomiese groei versnel, batepryse het skerp gestyg, VPI-indekse, die begrotingstekort en reële rentekoerse het gedaal en daar was 'n invloei van buitelandse geld. Wanbalanse het egter begin opbou omdat die vraag in die laaste paar jaar verlewendig is en dit derhalwe produksie vooruitgeloop het. Dit het die lopende rekeningtekort laat styg, huishoudelike skuld het gestyg en spaarkoerse het gedaal. Mense spaar nou die minste sedert 1949."
Laubscher sê die vrae wat na vore kom, is watter deel van die oplewing was te danke aan 'n strukturele verbetering wat sal standhou, en watter deel was weens 'n sterk internasionale sikliese opswaai — wat nou verby is.
"Kapitaalinvloei het die laaste twee jaar ongekend gestyg. Dit het 'n sterkte in die wisselkoers veroorsaak, maar dit kan bloot nie aanhou nie," het hy gewaarsku.
Die onlangse rentekoersverhoging is deels toe te skryf aan die neiging dat rentekoerse reg oor die wêreld aan die styg is. Amerika se rentekoers is ná sy laaste 16 monetêre vergaderings elke keer verhoog. Dit is onseker waarheen Suid-Afrika se rentekoers sal neig, maar die wisselkoers sal bepalend wees.
Tog meen Laubscher nie dat rentekoerse in die afsienbare toekoms met meer as 1 % tot 2 % sal styg nie, ondanks die feit dat die rand teen feitlik ál die belangrike geldeenhede verswak het.
Mnr. Anthony Dicey, voorsitter van die IVP, sê daar was heelwat ontevredenheid oor verkeerde oesskattings en dit sal in die toekoms aandag kry. Graderingsregulasies en spuitstofontledings is ook aspekte wat meer aandag gaan kry. Die byhou van inligting vir die boomsensus en produksiekoste en -syfers is belangrik vir die inmaakvrugtebedryf. Hy het 'n beroep op produsente gedoen om saam te werk en die belangrike inligting te verskaf. Hy het ook aangekondig dat die ledeheffing van 0,75 % van die produsenteprys onveranderd gelaat word vir die volgende seisoen.
30 Junie 2006