
Voedselsisteme in China, Meksiko en Suid-Afrika is by “groot” kruispaaie met totale gemeenskappe wat agtergelaat word, sê die Verenigde Nasies.
Mnr. Olivier de Schutter, ‘n spesiale ondersoekbeampte vir die reg tot voedsel, sê: “Tot soveel as 19 miljoen Meksikane en 12 miljoen Suid-Afrikaners het nie voedselsekerheid nie, en China se landelike bewoners is tot ses keer armer as sy stedelike bevolkings.”
De Schutter het Suid-Afrika verlede jaar besoek en groot kritiek oor die grondhervormingsproses en die implikasies daarvan gelewer. Hy is deur onder andere Agri SA gekritiseer dat hy sy aannames oor die land se voedselproduksie en voedselsekerheid sonder agtergrond inligting gemaak het.
De Schutter het ook gesê dat vakbondlede wat die nodige opleiding gehad het, inspekteurs op plase moet word. Tydens sy weeklange besoek is hy na twee informele nedersettings in Gauteng en opkomende boere in KwaZulu-Natal geneem.
Reg tot voedsel
Volgens De Schutter sal prosesse rondom voedselsekerheid in opkomende lande bespoedig kan word, mits die lande die reg tot voedsel wettig verklaar. Hy meen sodoende kan voedsekerheid vinniger deel word van startegieë en instansies.
“Wetlike erkenning van die reg tot voedsel en meerjarige strategieë wat owerhede verantwoordelik hou is die enigste manier om kohesie in beleide te vir seker en dus ook langtermyn sukses,” aldus De Schutter. Suid-Afrika en Meksiko het reeds die reg tot voedsel in hulle grondwette ingesluit.
“Ontwikkelende lande staar die groot taak in die gesig om vinnig groeiende bevolkings, wat nuwe druk op hulpbronne wat reeds onder druk is plaas, te voed. Hulle moet die basis van voedselproduksie as ‘n saak van dringendheid versterk en beveilig; en hulle sal dit regkry deur saam met boere en hulle organisasies te werk in plaas daarvan om hulle teen te staan,” aldus De Schutter.
11 Maart 2012