
Dit is vreesaanjaend om ‘n plaas aan die gang te hou, en om een te vestig is meer uitdagend, veral vir opkomende boere. Hulle het nie net te kampe met onvoorspelbare weerpatrone nie, maar ook beperkte toegang tot finansiering, gebrekkige vaardighede in produksie en met bemarking van hul oes, om nie te praat van die vaardighede wat nodig is om ‘n suksesvolle onderneming te bedryf nie. AFGRI het die volgende inligting gedeel in die Nasie in Gesprek-reeks by die onlangse Nampo-kongres.
Die inisiatiewe om opkomende boere in Afrika by te staan, lewer uitmuntende resultate, maar een faktor staan uit: geld alleen is nie genoeg om sukses te waarborg nie. Wat nodig is, is tyd, kundigheid en allerbelangrik die mentorskap wat die lewens verander van die mense wat daarby betrokke is.
Harvest Time – mentorskap vir opkomende boere
AFGRI se gespesialiseerde opleiding- en mentorskapprogram, onder die vaandel van Harvest Time Beleggings, bied in Suid-Afrika formele praktiese opleiding op plase met die hulp van mentors. As deel van hierdie program word studiegroepe en proefplase gebruik om nuwe tegnologie soos presisie-boerdery te demonstreer en daardeur opkomende boere aan die nuutste ontwikkelings in boerdery bloot te stel. Mentors en akkerboukundiges is daar om praktiese inligting en kennis te deel wat spruit uit jarelange ervaring.
Mentorskap is bo alle twyfel die waardevolste deel van die program. Akkerboukundiges en mentors van AFGRI werk deurgaans saam met die boere om hulle te help om die beste moontlike oes te lewer. Dit help die boer om ‘n beter oes te lewer en meer gewasse te plant om uiteindelik ‘n suksesvolle toekomstige kommersiële boer te word.
Solomon Masango is een van die beste voorbeelde van ‘n boer wat met die gebruik van die jongste tegnologie sy wins verhoog het. Solomon het aanvanklik geboer op 50 ha, maar dit het verander toe hy drie jaar gelede deel geword het van die Harvest Time-program. Deur gereelde besoeke aan die plaas het mentors die bedrywighede gemonitor en Solomon gehelp om sy geldsake te bestuur deur seker te maak dat verskaffers betyds betaal word en gehelp met sy voorseisoen-begroting en besteding.
Van die klein begin op 50 ha, bewerk Solomon nou net meer as 400 ha, met mielies op 140 ha, sojabone op 260 ha en suikerbone op 20 ha. Produksie het so verbeter dat Solomon nou tussen ses en nege ton mielies en sojabone, asook tussen 1,5 en drie ton suikerbone per hektaar oes met toerusting wat hy uit sy wins gekoop het. Solomon is deur Graan SA aangewys as die Boer van die Jaar en is op koers om ‘n toonaangewende kommersiële boer te word.
Deur gereelde Boeredae te reël, verbreed AFGRI al die afgelope 90 jaar die horisonne van opkomende boere, en sal in die toekoms steeds daar wees - saam met die boere vir die boere. By Harvest Time Beleggings is die slagspreuk “Ukufeza Ikhono” – ons help om die potensiaal van die plaas en die boer te ontsluit.
Landbou-ontwikkelingsdiens ondersteun boere in die res van Afrika
Deur AFGRI se Landbou-ontwikkelingsdiens in Uganda, Zambië en Zimbabwe, word ‘n vaderfiguur of Abba, in die gemeenskap aangewys om klein boere te help om hul potensiaal te ontsluit deur op te tree as mentor, raadgewer en koördineerder van projekte. Die doelwit is om klein, bestaansboerderye uit te bou tot semi-kommersiële boerderye deur hulle daagliks by te staan en leiding te gee. Die projek is deel van AFGRI se doelstelling om voedselsekerheid regoor die kontinent te bewerkstellig deur een gemeenskap op ‘n slag te help om selfvoorsienend te raak.
In Zambië word die poging ondersteun deur AFGRI se John Deere-handelaarskap, wat saam met Zanaco en die Zambia National Farmers Union (ZNFU) ‘n landbou-batefinansierskema in Kabwe gevestig het om boere te help om hul bedrywighede te meganiseer.
Deur die Abba Mechanisation Circle in Uganda kan boere meganiese toerusting huur wat deur AFGRI aangekoop word. Dit lewer ‘n groot bydrae tot beter produksie en tydbenutting omdat boere kan diversifiseer en hul risiko verminder. As die oeste gelewer is, help die Landbou-ontwikkelingsdiens ook met die berging sodat groter hoeveelhede gewasse verkoop kan word.
In Zimbabwe bied die Abba Training College ‘n opleidingsprogram van twee tot drie jaar, waarvolgens 1 hektaar grond onder besproeiing aan elke student toegeken word. Die studente kweek botterskorsie, aartappels, uie, tamaties, kool en mielies. Die opbrengs uit die verkoop van hul oeste word gebruik om die studente kosteloos op te lei en huisvesting te verskaf. Deur AFGRI se groter landboukundige modelle is jong opkomende boere betrokke by die ontwikkeling van die Afrika-markte vir klein boere. Dit is ‘n volhoubare model wat op enige plek in Afrika herhaal kan word.
Verder weg in Ghana is AFGRI se John Deere-handelaarskap deel van USAID se finansieringprogram vir landbouprojekte (USAID-FinGAP). Ingevolge die program kry klein boere lenings teen verlaagde koerse om John Deere-trekkers en ander landboutoerusting te koop. AFGRI bied ook opleiding en waarborg die toerusting totdat die lening afbetaal is.
Berging van gewasse
Met die steun aan opkomende boere op die kontinent, word voedselsekerheid moontlik gemaak, maar dit help nie as die gewasse nie behoue bly nie. Deur sy Graanbestuursdiens maak AFGRI seker dat alles wat gekweek word, behoue bly tydens berging deur behoorlike bergingsplekke te verskaf. Alle gewasse is ‘n belangrike en noodsaaklike kommoditeit in Afrika en AFGRI se Graanbestuursdiens bied bergplekke vir mielies, koring, sonneblom, sojaboon, gort, sorghum en rys.
In Suid-Afrika bestaan die bergingsgeriewe uit 69 graansilo’s en 17 graankuile wat regoor die land versprei is. Daar is voorts 13 pakhuise in Zambië, Zimbabwe, Mosambiek en Tanzanië asook ‘n graankuil in Zambië en ‘n graansilo in die Republiek van die Kongo. Dit verseker dat meer as 5 miljoen ton gewasse regoor die kontinent geberg word. Vir kommersiële en opkomende boere bied die bergingsgeriewe die gemoedsrus dat die oes waarvoor hulle so hard werk vir ‘n aantal seisoene behoue bly en verkoop kan word wanneer dit nodig is.