Luidens 'n nuusverklaring op Sasol se webwerf het dié maatskappy 'n skikkingsooreenkoms met die Mededingingskommissie bereik om dié boete te betaal. Dit is nadat klagtes van onmededingende gedrag in 2002 teen Sasol by die kommissie aanhangig gemaak is.
Susan Botes van Landbouweekblad skryf dié ooreenkoms hou verband met Sasol Nitro se deelname aan kartelvorming in die kunsmismark. Dit sluit aan by aantygings van plaaslike kunsmisvervaardigers dat die kunsmisreus sy dominansie in die misstofbedryf misbruik het uit.
Sasol se topbestuur het in Julie 2008 'n ondersoek na wanbestuur in die maatskappy van stapel gestuur in 'n poging om onmededingende gedrag uit te roei. Dit het uitgeloop op 'n bevinding dat onmedigende gedrag wel plaasgevind het, hoewel dit 'n paar jaar vantevore geskied het.
Die Mededingingstribunaal moet dié boete bekragtig.
Die TLU SA het vroeër vanjaar 'n projek geloods om geld in te samel om die plaaslike kunsmisbedryf te ondersoek.
Mnr. Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê die organisasie is reeds in gesprek met Sasol in 'n poging om die proses so deursigtig as moontlik te maak tot voordeel van die kommersiële boer. "Dit het vir die TLU nog altyd daaroor gegaan om te kyk in hoe 'n mate kan insette - veral kunsmis - op 'n billike en korrekte wyse saamgestel word, sodat dit tot voordeel van die boer kan wees."
6 Mei 2009