
Die weeklange Jacaranda-landbouskou vind vanaf 23 – 30 Augustus plaas en is ’n samevoeging van alles wat met die landbou verband hou, insluitend vee, alternatiewe energie, organiese landbou en vele meer.
“Gedurende die afgelope 75 jaar het die Pretoria-skou en nou die Jacaranda-landbouskou 'n belangrike platform vir boere en die landbougemeenskap gebied om netwerke te bou en die landboubedryf sowel as voedselsekerheid in Suid-Afrika te bevorder," sê Wim du Toit, hoof van Tshwabac.
Vanjaar is die fokus weer eens om Suid-Afrika se unieke en diverse veesoorte, wat die room van Suid-Afrika se beeste, skape, bokke en natuurlik ook die geveerde spesies insluit, ten toon te stel. 'n Ander fokuspunt is bestaansboedery. "Suid-Afrika het sowat 2,5 miljoen bestaansboere wat 'n hele paar uitdagings trotseer, soos die groote van hul grond, toegang tot finansiering en verskeie produktemodelle wat hul oorlewing bemoeilik. Dit is dus belangrik vir hierdie boere om die skou by te woon om oor hierdie kwessies te gesels en volhoubare oplossings te probeer kry," sê du Toit.
Uitstallers en besoekers aan die skou kan ook na wêreldklas-uitstalgeriewe uitsien. Die Tshwane Events Centre spog met die tweede grootste uitstaloppervlak in Suid-Afrika. Rig verdere navrae aan Belia Kemp by 012 327 1487 of info@tshwabac.co.za