
Promosie-artikel:
Hanlie Delport van Wild en Jag-tydskrif het een van EcoTraining se kampe besoek tydens ’n spoorsnykursus en het die ervaring soos volg opgesom.
Die eerste oggend van die kursus was almal slaggereed om meer omtrent die fynere kunsies van spoorsny te leer. Alex, wat een van net 19 senior spoorsnyers in Suid-Afrika is, het voor geloop en begin om sirkels in die stof te trek. Ons het almal spoor vir spoor met groot oë en vol verwondering staan en toekyk hoe die wêreld van spoor-identifikasie voor ons oopgaan. Met Louis Liebenberg se boek Tracks and Tracking in South Africa in die een hand en ’n lekker lang stok om sirkels te kan trek in die ander, het ons spore begin ontleed.
Alex het vertel dat hulle twee modules gebruik wanneer hulle student evalueer. Die eerste noem hulle “spoor en sig”-interpretasie. Hier toets hulle die spoorsnyer se kennis van alle spore en van die visuele inligting wat die dier agterlaat. Die tweede module staan bekend as “volg”- of “trailing”-evaluasie. In dié geval word gekyk of jy die spoor kan vat en dit oor ’n afstand kan volg.
Daar word ook gekyk na jou waarnemingsvermoë, antisipasie en of jy ’n spoor kan volg wat nie meer maklik herkenbaar is nie. Dit was verbasend om te sien hoe mense wat bitter min van spoorsny en spooridentifikasie weet, rondhardloop en spore suksesvol begin identifiseer. Ek was net bang ek raak so meegevoer deur die spoorsnyery dat ek nie weer die bakkie kon opspoor nie!
Een van die opleidingsdoelwitte by EcoTraining is om die student nie net te leer hoe om die diere se spore te identifiseer nie, maar ook hoe om die spore te interpreteer. ’n Mens leer of dit ’n vars spoor is en of die dier teen ’n gemaklike pas geloop het, of dit ’n manlike of vroulike dier is en of die dier jonk of oud is.
Alex vertel dat 80% van spoorsnykennis in die laaste 20 jaar verlore gegaan het. Die tradisionele lewenswyse van jag en versamel (hunter-gatherer) is besig om vinnig uit te sterf. Hy meen spoorsny is ’n antieke taal en deel van die mens se denkproses, ongeag of jy dit as ’n wetenskap of ’n kuns beskou. Vir die mense van ouds was dit ’n hulpmiddel om te oorleef. As jy nie kon jag vir kos nie en nie geweet het hoe om die dier wat jy met ’n pyl geskiet het, op te spoor nie, het jy nie oorleef nie.
Dit is duidelik dat Alex passievol is oor opleiding. EcoTraining poog om die bestaande inheemse kennis oor spoorsny te bewaar. Volgens Alex het sekere mense ’n natuurlike aanvoeling vir spoorsny. As jy egter ’n liefde vir die natuur, ’n goeie oog vir ‘detail’ en Job se geduld het, beskik jy reeds oor die nodige om ’n goeie spoorsnyer te wees. Met die regte opleidingskursusse, soos dié wat EcoTraining aanbied, kan ’n mens ’n loopbaan as gesertifiseerde spoorsnyer en gids volg.
Besoek gerus EcoTraining se webstuiste vir meer inligting omtrent die 7 of -14 dag spoorsny kursus by http://www.ecotraining.co.za/courses/tracking-course-fgasa
- Artikel geskryf deur Hanlie Delport; gepubliseer in Wild en Jag.