
Marian woon saam met haar man, Philip, en hul twee kinders op die familie se vrugteplaas Nelsview naby Ladismith.
Waar het jy aan die idee gekom?
Dit het alles in 2009 begin toe ek vir myself 'n mooi leersak wou koop en nie een in die hande kon kry nie. My man, Philip, het voorgestel ek gebruik van die plaas se leer en ontwerp self een. Familie en vriende se terugvoer was oorweldigend gunstig en dit het die wiele aan die rol gesit.
Hoe groot is jou reeks produkte?
Ek verkoop naweeksakke, handsakke en babasakke. Dit kom in 'n verskeidenheid kleure leer en voering. Die babasak is my gewildste produk. Ek is oorval met versoeke vir so 'n sak en het dit toe ontwerp met gerief en funksionaliteit, maar ook weelderigheid, in gedagte. Dit het die perfekte ruimte vir alles wat 'n ma met haar moet saamdra, maar dis alles verskuil in 'n pragtige leerhandsak.
Hoeveel mense werk vir jou onderneming?
Mally Bags verskaf werk aan ses vroue in Kaapstad. Hulle het 20 jaar se ondervinding. Met hul ervaring en my beheptheid met gehalte maak ons 'n goeie span.
Hoe bemark jy jou sakke?
Ek het 'n bemarkingsagtergrond en dit kom nou nuttig te pas. My bemarkingstrategie is hoofsaaklik op sosiale media, die internet en soms ook die drukmedia. Ek gebruik platforms soos Facebook, Instagram en Pinterest. Ek het ook 'n aanlynwinkel op my webwerf.
Jy verkoop jou sakke oor die hele wêreld heen. Hoe het jy die markte betree?
Dit het alles danksy sosiale media gebeur. Baie Suid-Afrikaners wat oorsee woon, koop by my sakke. Ek kry elke maand bestellings uit Kanada, Nieu-Seeland, Australië en Brittanje. Ons het onlangs ook die Doebai-mark betree en die bestellings lyk reeds goed. My een skoonsuster woon daar en sy help my met marknavorsing. Ons oorweeg dit om by baba-ekspo’s te gaan uitstal.
Wat maak jou onderneming uniek?
Ek bedryf 'n internasionale onderneming vanuit die hartjie van die Klein-Karoo. Elke Mally-sak word individueel gemaak. Dis 'n lewenslange vriend en raak net beter met die tyd. Ons het eers leer van die plaas gebruik, maar namate die onderneming uitgebrei het, moes ek ander verskaffers ook soek.
Help jou onderneming die gemeenskap waar julle woon?
Ek en my skoonsus, Jonelle, is betrokke by ons plaas se gemeenskapsprojek, die Nelsview- geïntegreerde gemeenskapsprojek. Alle orige materiaal gaan vir die vroue se naaldwerkprojekte.
Watter lesse het jy geleer uit jou grootste mislukking?
Doen deeglike navorsing oor die bedryf en jou produk. Maak seker jy is heeltemal tevrede met jou produk voordat jy dit verkoop. Gehalte is tops!
Navrae: www.mally.co.za