Die Landbouwerkgewersorganisasie (LWO) het appèl aangeteken teen die Registrateur van Arbeidsverhoudinge se besluit om dié organisasie se registrasie terug te trek en die LWO kan vir eers met sy werk voortgaan.
Mnr. Danie de Villiers, voorsitter van die LWO, kon nog nie sê wanneer die appèl in die Arbeidshof aangehoor sal word nie, maar het bevestig dat die organisasie voortgaan om na boere se belange as werkgewers om te sien.
Dit volg nadat die registrateur, mnr. Johan Crouse, bevind het dat die organisasie "nie konstitusioneel funksioneer nie, nie 'n ware werkgewersorganisasie is nie en ingestel is op winsbejag vir individue". Hy sê dit is as 'n konsultasie-onderneming bedryf.
As die appèl nie slaag nie, sal die LWO se regte as 'n werkgewersorganisasie, soos om lede by die kommissie vir bemiddeling, mediasie en arbitrasie te verteenwoordig, opgehef word.
'n Swaard hang sedert Maart verlede jaar oor die LWO toe dié voorneme in die Staatskoerant bekend gemaak is. Belanghebbendes is toe genooi om binne 60 dae ná die kennisgewing skriftelike voorleggings te stuur oor waarom die registrasie nie teruggetrek moet word nie. Mnr. Werner Weber, die VF Plus se woordvoerder oor landbou en 'n gewese voorsitter van die LWO, was die klaer in die saak.
13 Januarie 2006