Streng maatreëls word beoog om die uitbreking van Amerikaanse vuilbroed (AFB), 'n vernietigende siekte in byekorwe, in die Wes-Kaap te probeer keer of ten minste in bedwang te hou.
Mnr. Jan-Hendrik Venter van die Wes-Kaapse departement van landbou se direktoraat plantgesondheid sê die plan wat oorweeg word, is daarop gemik om dié aanmeldbare siekte te keer deur byebedrywighede in die provinsie tydelik op te skort.
Byeboere sal aangemoedig word om te versoek dat inspekteurs hul swerms en korwe ondersoek vir simptome van die siekte. Waar geen simptome van die siekte in korwe of spore in die heuning gevind word nie, sal boere toestemming kry om met hul bedrywighede voort te gaan. Waar die siekte teenwoordig is, sal die korwe vernietig en boere vergoed word.
Daar sal aanvaar word alle Wes-Kaapse byeboere se korwe is met die siekte besmet totdat hulle ondersoek en die teendeel bewys is. Byeboere wat meer inligting verlang, kan 'n e-pos aan mnr. John Moodie, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Byebedryfsorganisasie, stuur by john@honeywoodfarm.co.za.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 24 April 2009.
15 April 2009