
Suid-Afrikase avokado- en makadamiabedryf groei gesond, terwyl die mango- en lietsjiebedryf hul huidige stabiele situasie handhaaf, sê mnr. Derek Donkin, hoofbestuurder van Subtrop.
Donkin het op die bemarkingsimposium gesê avokado’s word tans op 15 800 ha verbou en die jaarlikse produksie is sowat 120 000 ton met ’n waarde van R730 miljoen. Makadamias word op 18 000 ha verbou en die jaarlikse gemiddelde opbrengs is sowat 38 000 ton (neut-in-dop) ter waarde van R1,3 miljard. Dit is die vinnigste groeiende landboubedryf in Suid-Afrika.
Lietsjies word op 1 730 ha verbou met ’n gemiddelde jaarlikse opbrengs van 7 000 ton wat R50 miljoen verdien. “Dié vier subtropiese bedrywe beslaan dus saam 35 530 ha met ’n totale opbrengs van 943 000 ton en ’n jaarlikse waarde van R2,23 miljard,” som Donkin die situasie op.
Wat die mangobedryf betref, het lewering aan die plaaslike varsproduktemarkte die afgelope paar jaar redelik dieselfde gebly, terwyl uitvoersyfers gedaal het. Die rede is waarskynlik omdat meer mango’s vir sap en droging aangebied is. “En dan is die lewering vir atjar ’n redelik onbekende faktor omdat dié volumes nie altyd aangemeld word nie,” sê Donkin.
Die lietsjie-opbrengs wissel baie en groot volumes is in 2002/’03, 2003/’04 en in 2007/’08 uitgevoer. Lewering aan die varsproduktemarkte was redelik stabiel oor die afgelope paar jaar, terwyl volumes vir versapping ook ’n rol begin speel.
Die uitvoermarkte bly die belangrikste afset vir Suid-Afrikaanse avokado’s met ’n gemiddelde 40 000 ton (10 miljoen kartonhouers) wat in die buiteland verkoop word. Gemiddeld sowat 25 000 ton avokado’s per jaar word op die nasionale varsproduktemarkte verkoop. Daar is goeie rede om te meen dat die bedryf se groeivolumes deur regstreekse verkope aan die kleinhandel en deur die informele sektor geabsorbeer word.
Die makadamiabedryf groei met rasse skrede soos die groei van die 35 000 ton (neut-in-dop) verlede jaar tot die verwagte 38 500 ton (neut-in-dop) vanjaar illustreer. Die afgelope vier jaar was daar ’n geringe groei in die produksie van neutkerne, maar die volumegroei word toegeskryf aan die uitvoer van neut-in-dop na China, het Donkin gesê.