Hierdie graanboer het 'n beeskompleks ontwerp wat maklik by sy omvangryke boerderystelsel inpas en so min moontlik tyd eis, veral wanneer sy graanboerdery baie tyd en arbeid verg.
Die beesboerdery sorg nou wel nie vir die hoofboerdery-inkomste nie, maar dit is g'n verskoning om hierdie afdeling van die boerdery af te skeep nie, al is hy hoofsaaklik 'n graanboer.
Daarom het mnr. Gert Pretorius van die plaas Hendriksrust, Lichtenburg, 'n beeskompleks op sy plaas gebou wat die beeswerk van voer gee en vetmesting tot dosering en weegwerk seepglad laat verloop.
Hy het jare gelede Simmentalers uit Switserland ingevoer en met hulle begin teel. Weens die sterk groei in sy akkerbou het hy later die stoettelery gelos en boer hy nou net kommersieel met die beeste. Hy gebruik egter steeds semen van 'n Europese kampioenbul wat hy lank gelede ingevoer het vir kunsmatige inseminasie. Die Simmentalers pas so reg in sy kraal, want hy het baie vars melk vir sy groot arbeidsmag nodig en hierdie dubbeldoelbeeste lewer genoeg melk.
Hy maak die beste bulkalwers groot en verkoop hulle as bulle, terwyl die beste versies die ouer koeie vervang. Die kalwers wat nie aan sy standaarde voldoen nie, word vetgemaak en geslag.
Sy beeskompleks bestaan uit 'n hoofkraal met 'n klomp geriewe rondom die kraal, naamlik afsonderlike krale vir koeie, verse en bulle, 'n melkstal, voerkamers, 'n voerbunker onder 'n afdak, 'n hamermeul, 'n voermenger en 'n hanteringskompleks met aparte geriewe vir groot beeste en kalwers.
Pretorius sny elke jaar sowat 25 ha droë mielies met koppe en al af en maal dit dan onder 'n afdak aan die westekant van die hoofkraal. Wanneer die mielies gemaal word, blaas die hamermeul dit direk in die voerkamers in. Hy gebruik 'n elektriese hamermeul om sy trekkers se enjins te spaar. Só maal hy genoeg voer vir die hele jaar.
Die beeste wei nie op die oesreste nie, maar hy benut dit wel deur dit te baal en as ruvoer te benut. Op dié manier herwin hy sowat 60 % van sy mieliereste. Hy maal dit en bêre elke jaar sowat driehonderd vragte oesreste in 'n reusagtige kuilvoerbunker wat onderdak is sodat die ruvoer teen wind en weer beskerm is.
Hy moet vir só baie voer sorg omdat hy net 50 ha klein kampies Smutsvingergras op sy plaas vir 120 beeste het. Hierdie kampies is almal digby die beeskompleks sodat die diere nie ver hoef te loop om bedags te gaan wei nie. Die ander beeste is op 'n nabygeleë veeplaas waar hulle op natuurlike veldweiding is.
Elke groep beeste het verskillende voedingbehoeftes, byvoorbeeld kalwers, verse, bulle, melkkoeie en droë koeie. Daarom kry elke groep 'n afsonderlike rantsoen. Daarvoor het Pretorius sy eie voermenger gebou wat elektries aangedryf word. Daarin meng hy die gemaalde mielieplante volgens die spesifieke groep se produksie- of groeifase met hoëproteïenkonsentraat (HPK) daarby. In die winter meng hy ureum by.
Hy het ook 'n lekmenger self gebou wat elektries aangedryf word en 300 kg lek op 'n keer kan meng. Dit meng die gewone sout-beenmeel-ureumlek só deeglik dat hy spoorelemente kan byvoeg. Dit is ook belangrik vir die byvoeg van ureum, wat gevaarlik vir die diere kan wees as dit nie eweredig vermeng word nie en 'n dier dalk te veel daarvan inkry.
Daar is aparte krale onderdak vir die bulle, kalwers, verse en groot koeie sodat elke groep volgens groei- of produksiefase gevoer kan word. Hierdie krale is aangrensend of digby die voerkamers en kuilvoerbunker sodat die plaaswerkers die diere met die minste moeite en in die kortste tyd kan voer. Elke kraal het sy eie waterkrippe.
Die hanteringsgeriewe aan die oostekant van die groot kraal is die juweel van die hele beeskompleks. Pretorius het dit alles self ontwerp en met ou yster en ander toerusting gebou wat op die plaas in onbruik geraak het. Dit het hom dus 'n breukdeel van 'n nuwe kompleks gekos.
Hy het die kompleks ontwerp om so prakties moontlik te wees sodat die diere maklik en moeitevry gehanteer kan word. Alles is onderdak sodat hulle op reënerige dae ook met die beeste kan werk.
Beeste kan direk van die hoofkraal af of deur 'n tweede hek in 'n houkraal ingejaag word. Die houkraal is rond, sodat die diere nie in 'n hoek kan saamdrom nie.
Van daar af beweeg hulle in die drukgang in, wat oor 'n baie nuttige eienskap beskik. Pretorius het 'n driehoekige hek voor in die drukgang gebou om kalwers maklik te kan afkeer. Dit is aan die een punt met skarniere aan die drukgang vas. Wanneer die hek oopgemaak word, maak dit terselfdertyd 'n kanthekkie oop waardeur die kalwers kan beweeg, terwyl dit die drukgang toemaak sodat die kalwers nie verder kan beweeg nie.
Hulle kan dan uitgekeer word na 'n aparte drukgang met 'n klein nekklamp wat vir kalwers geskik is. Die gevaar dat die kalwers deur die groter beeste in die drukgang beseer kan word, bestaan dus nie.
Die driehoekige hek in die drukgang het 'n tweede funksie. As die beeste in die drukgang agteruit beweeg, druk hulle teen hierdie hek, wat dan vanself toemaak sodat hulle nie verder na agter kan beweeg nie.
Vanuit die drukgang kan die beeste na 'n elektroniese skaal afgekeer word om hulle te weeg. Die lesings word in 'n gebou gedoen wat gesluit kan word om ook veeartsenykundige middels veilig te hou. Die gebou dien terselfdertyd as betaalkantoor vir die plaaswerkers.
Aan die eindpunt van die drukgang is 'n nekklamp waar die groot beeste vasgekeer kan word om wonde te behandel en inspuitings te gee, of die diere te doseer.
'n Laaibank waarvan die hoogte verstel kan word om by voertuie van verskillende hoogtes aan te pas, is die laaste deel van die hanteringskompleks.
Die drukgang is met ou sement-spoorwegdwarslêers uitgevoer sodat die grond nie uitgetrap word nie. Dit het 'n growwe oppervlakte wat voorkom dat die diere maklik gly.
2 Julie 2004