Daar is 'n paar stukke gereedskap beskikbaar wat tradisionele skroef- en klemklampe om pype met verskillende diktes draad kan vervang. Almal het egter, volgens hierdie vindingryke boer, die een of ander tekortkoming en toe dink hy die wêreld se "eenvoudigste én beste" klamptang uit.
Die Magi-Clamp, ofte wel "Jimmy Tool", wat deur mnr. Neels Grieshaber van Lephalale (Ellisras), Limpopo, ontwerp is, word eersdaags in Suid-Afrika en moontlik binnekort wêreldwyd bemark.
Grieshaber, wat op die plaas Weltevrede boer, sê dit is juis die voortdurende gespartel om stukkende waterpype op die plaas en in sy voertuie te herstel dat hy begin eksperimenteer het met gereedskap waarmee die bestaande klampe met gewone draad vervang kan word. Die meeste tradisionele skroef- en klemklampe wat 'n mens in 'n ysterwarewinkel kan koop, is nie altyd geredelik beskikbaar nie, is duur en is nie altyd doeltreffend nie.
Grieshaber se klampmaker is voorlopig gepatenteer (2004/51050) nadat 30 miljoen patente, insluitende 64 patente vir verskillende klampmakers, nagespoor is. Belangrike baanbrekerswerk is deur wyle mnr. Jimmy Grieshaber, 'n familielid, gedoen en daarom word die klampmaker ook na hom genoem.
Grieshaber se klampmaker bestaan uit 'n tang met 'n verkeerdom-aksie. Dit beteken as die tang se handvatsels toegeknyp word, word die twee bekgedeeltes weg van mekaar gedwing. Op die twee punte van die bekgedeelte is groewe waarin die draad kan gly. Net onder die groewe is twee gaatjies reg deur die metaal waarin verskillende diktes draad gepas kan word. Aan weerskante van die klampmaker se bekgedeelte is twee stutpenne met koppe wat keer dat die draad afgly wanneer dit om 'n pen geanker word.
Die klampmaker kan gebruik word om klampe vir baie dun (6 mm) pype tot baie dik (75 mm/klas 6) pype te maak. Om 'n klamp te maak, word die draad twee keer om die betrokke pyp gedraai, die een punt van die draad omgebuig en van die buitekant af in die gat in die tangbek gedruk.
Met die tangbek toe (en die handvatsels oopgesper) word die ander draadpunt om die teenoorgestelde stutpen gedraai. Wanneer die handvatsels nou nader aan mekaar gedruk word, beweeg die twee bekgedeeltes weg van mekaar en word spanning op die draad geplaas.
As hierdie aksie voldoende spanning op die draad plaas, kan die klamptang 180 grade gedraai word om die twee draadpunte stewig om mekaar te vou. As verdere spanning op die pyp verlang word, kan die draadpunt om die stutpen eers losgemaak, die tangbek toegemaak en dieselfde draadpunt weer 'n keer om dieselfde stutpen gedraai word. Verdere spanning kan nou met 'n tweede handvatselaksie op die pypklamp uitgeoefen word.
Hierdie aksie kan selfs 'n hele paar keer herhaal word wanneer 'n taamlike dik pyp byvoorbeeld met 'n betreklik dun pyp gekoppel word. As die nuwe pypklamp voltooi is, kan die oortollige draad sommer met die klamptang se eie draadknipper korter gemaak word.
Een van die grootste voordele is dat dit die draad, selfs baie dun draad, geleidelik onder spanning plaas en dit nooit knak en breek nie - iets wat dikwels tot groot frustrasie met ander klampmakers gebeur.
Vir die maak van draadklampe het 'n mens nie 'n paar stukke gereedskap en (soos in sommige gevalle) selfs 'n bankskroef nodig nie, maar bloot Grieshaber se klamptang. Hou dit sommer saam met 'n paar stukke draad in die bakkie se gereedskapkis. Jy vat dus net die klamptang en die draad na waar die probleem is en hoef nie die probleem (lees pype) na die werkwinkel te bring nie, sê Grieshaber.
12 November 2004