In Oktober is die meeste trekkers in een maand in Suid-Afrika in 26 jaar verkoop, sê mnr. Leon Pretorius, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie.
Altesaam 919 nuwe trekkers is in Oktober verkoop. Dit is 20% meer as die 766 eenhede wat in Oktober verlede jaar verkoop is. Dit is ook die hoogste maandelikse verkope vir trekkers sedert November 1982.
Pretorius sê verkope vir die jaar is tot dusver byna 45% hoër as verkope vir dieselfde tydperk verlede jaar. Stroperverkope bly sterk en vir die jaar tot nou toe is dit net meer as dubbel wat dit vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar was.
"Die impetus in die mark wat aan die begin van die jaar begin het, duur voort. Boere het die geleentheid wat goeie oeste, goeie kommoditeitspryse en gunstige landboutoerustingpryse bied benut om verouderende toerusting te vervang. Noudat die somersaaiseisoen begin, wag boere in die meeste gebiede steeds vir algemene reën.
"Die onbestendigheid in die wêreld se finansiële markte, met die gevolglike invloed op die waarde van die rand, sal binnekort gevoel word. Pryse vir landboumasjinerie sal hoër gedwing word en dit, tesame met die komende weersomstandighede, sal die vraag na landboumasjinerie bepaal," sê Pretorius.
6 November 2008