Sonder goeie kennis van die grond, werktuie, die koste van die bewerkings en wat met die bewerkings bereik kan word, is dit nie moontlik nie.
Die huidige kosteknyptang van lae produkpryse en hoë insetkoste dwing boere om doeltreffender, produktiewer en meer wetenskaplik te boer - veral ten opsigte van grondbewerking. Bewerkings is duur, veral as koste, soos vervangingswaarde, lone en onderhoud, in ag geneem word. Boere moet dus seker maak dat hulle hul grond korrek en doeltreffend bewerk.
Die vraag is of dit nog die moeite werd is om teen die huidige produkpryse die hoë koste aan te gaan. Die antwoord is eenvoudig. As die boer besluit om te plant, moet die doeltreffendste aksies gedoen word vir die optimum opbrengs. Dit is baie belangrik om versigtig te wees wanneer daar op direkte koste bespaar word, aangesien die ekonomiese impak daarvan op die netto inkomste per oes uiters gering is.
Die verdigting van sandgrond is dikwels een van die redes waarom opbrengste nie na wens is nie. Dikwels verdig grond soveel dat plantwortels net 'n klein volume van die grond kan benut en dus nie optimaal funksioneer nie.
Grondbewerking is die fisieke manipulering van grond wat 'n verandering in struktuur, sterkte en/of posisie tot gevolg het. Korrekte bewerking verbeter die toestande vir plantproduksie.
Noord-Kaapse besproeiingsboere moet besluit oor watter bewerking om te doen nadat 'n gewas geoes is. As 'n mens die reste terugploeg, bestaan die moontlikheid van swamsiektes en die vraag is steeds of die reste doeltreffend ingeploeg kan word. Daarteenoor kan 'n mens die reste brand, maar dit kan ook grondvrugbaarheid, struktuur, tekstuur en ál die ander voordele verbonde aan organiese materiaal benadeel.
Die inploeg van reste kan baie voordele inhou, maar in die meeste gevalle moet die grond twee maal met 'n skottelploeg bewerk word. 'n Mens moet die reste goed met die grond meng. Hierdie bewerking moet teen die regte spoed gedoen word. As die trekkerspoed te hoog is, sal die reste in 'n horisontale laag gegooi word, wat 'n beperkende laag kan veroorsaak.
Die ander alternatief is om die reste te brand en daarna in te ploeg, of net 'n ligte saadbedding-voorbereiding te doen. Die organiese materiaal is egter nodig vir voedsel vir die mikrobes. Om die reste te brand, word dus nie sterk aanbeveel nie.
Geen boer kan bekostig om enige bewerking sonder 'n kosteberaming te doen nie. 'n Beitelploeg (13-tand) se bewerkingskoste beloop byvoorbeeld R142,58/ha, teenoor 'n diep tandbewerking se R242,94/ha.
Soortgelyke beramings kan gebruik word om die koste van 'n sekere bewerking af te lei, maar die vraag is nog watter bewerking die beste sal wees. Die produsent moet dus weet watter bewerking nodig is om koste te bespaar. Die bewerking moet ook met die korrekte werktuig gedoen word.
Faktore wat die tipe bewerking en die werktuie bepaal, is die volgende:
Om vas te stel of grond verdig is, gebruik 'n mens 'n penetrometer om die weerstand in die grond te meet. Dié instrument meet elke sentimeter tot op 'n diepte van 800 mm. Die lesing word in kPa aangedui. 'n Mens kan 'n maksimum lesing van 5 000 kPa meet. Die lesings word as 'n grafiek aangedui en verskeie waarnemings kan gemaak word.
Die natuurlike weerstand waarby koringwortels weens verdigting beskadig kan word, wissel van 1 500 kPa tot 2 000 kPa vir grond met 'n kleipersentasie van minder as 15 %. By GWK is die norm van 2 000 kPa algemeen in gebruik.
In dié geval wat in grafiek 1 aangedui word, is vyf lesings sowat 400 mm van mekaar af geneem. Dié grond is op 'n diepte van sowat 150 mm bó die norm verdig. Die verdigting strek tot op 'n diepte van sowat 450 mm.
Die lesings word by toestande so na as moontlik aan veldwaterkapasiteit geneem. Soveel lesings as moontlik word regoor die landery geneem om 'n geheelindruk te kry. Die grondtipes, voorafgaande bewerkings en die tipe gewasse wat verbou is, speel 'n rol en sal bepaal hoe die grafiek lyk.
Om die veldwaterkapasiteit na te boots, word 'n dammetjie in 'n land vol water gemaak en (na gelang van die grondtipe) twee tot drie dae gelaat sodat die vrywater kan insak. Sodra ál die vrywater dieper as 800 mm ingesak het, is die grond ongeveer by veldwaterkapasiteit en kan 'n mens die lesings neem.
Nóg 'n besluit wat die produsent moet neem, is watter tipe skeurploeg om te gebruik om die verdigting op te hef.
Die lesings in grafiek 2 (nie op webwerf beskikbaar nie) is geneem nadat die grond met 'n skeurploeg bewerk is. Die afstand tussen die ploeg se skare was korrek gespasieer en geen verdigting is tussen die tande aanwesig nie. Daar is tot op 'n diepte van 400 mm bewerk, maar die grond is egter steeds dieper verdig.
As 'n mens 'n "skeur"-aksie uitvoer, moet jy seker maak dat die afstand tussen die ploegskare nie te groot is nie. As gewone tande sonder hamerkopskare gebruik word, moet op 'n diepte van 100 mm dieper as die verdigte laag bewerk word om die verdigting doeltreffend op te hef.
As hamerkopskare gebruik word, kan net onder die onderste grens van die verdigte laag bewerk word. Maak seker dat die hamerkopskare teen die regte hoek gemonteer is en dat die spasiëring tussen die skare nie groter as 150 mm is nie.
Dit is ook belangrik dat 'n mens hamerkopskare - en nie gewone, ou ploegskare nie - gebruik. Die ploegskare kan 'n verdigte laag veroorsaak, veral as hulle nie korrek geïnstalleer is nie. Die ploegskare het ook nie 'n hol onderkant nie en het dus 'n smeereffek wat tot verdigting lei op die diepte waar bewerk word.
Daar bestaan egter gevalle waar geen of baie min verdigting voorkom.
'n Koring- en mieliewortel groei sowat 25 mm tot 27 mm per dag. 'n Koringwortel kan dus tot 2 m diep in die grond indring. Hoe meer volume beskikbaar is om in te groei, hoe meer suurstof, water en voedingstowwe is vir die plant beskikbaar. Dit skep optimale toestande vir optimale produksie.
Dit is dus baie belangrik om te weet hoe die grond lyk wat bewerk gaan word om die regte bewerking met die regte werktuig te doen.
Voor enige bewerking moet die produsent seker maak van die koste en wat bereik kan word met so 'n bewerking. Die produsent moet ook seker maak dat die korrekte werktuig gebruik word en dat die werktuig doeltreffende bewerking doen.
Deur die hulpmiddels wat reeds bestaan te gebruik, kan Suid-Afrikaanse boere hul insette verminder en hul wins verhoog.
Unieke boek help boere
CHRIS JOOSTE (cjooste@landbou.com)
'nBoek wat boere met die kosteberamings van 23 gewasse en met die berekening van meganisasiekoste help, is een van die unieke hulpmiddels wat Griekwaland-Wes-Koöperasie (GWK) in Douglas aan sy lede bied.
Die tyd om inligting te versamel om sinvolle begrotings - gedeeltelik of vertakkings - saam te stel, is dikwels een van die boer se probleme. Die kostegids wat mnr. Abraham Bekker van GWK in Douglas saamgestel het, beskik oor intydse inligting, wat 'n nuttige instrument vir boere in die Noord-Kaap is by die opstel van kontantvloeistate of vertakkingbegrotings.
Boere kry inligting oor ál die kontant- en permanente gewasse wat in die GWK-gebied verbou word. Die inligting is veral vir die boer van groot waarde wanneer gewaskeuses opgeweeg word teen die potensiële inkomste en risiko's van elke gewas.
Die sensitiwiteitsanalise toon wanneer marginaliteit bereik word teen 'n sekere opbrengs en plaashekprys. Die gelykbreek-opbrengs en gelykbreek-prys is dus vir 'n boer 'n goeie aanduiding van teen watter opbrengs en prys dit riskant begin raak om die gewas te verbou.
Die kostegids vervat ook die resultate van die jongste kultivarproewe van GWK. Hierdie resultate speel 'n belangrike rol by die keuse van kultivars in die aanplantingspakket. Boere kan in die resultate sien watter kultivars in die proewe presteer. Aangesien die gids die inligting oor jare toon, kan boere ook die herhaalbaarheid van die prestasie van 'n spesifieke kultivar sien.
Die proewe word oor die hele GWK-gebied gedoen en boere kan dus met 'n groot mate van sekerheid dié kultivars plant wat toon dat hulle binne 'n geografiese gebied presteer waar sekere klimaatstoestande heers.
Met dié inligting weet die boer presies wat sy gewas kos en wat die verwagte wins is. Die gids word twee keer per jaar aangepas. 'n Volledige begroting vir elke gewas gaan ook bygevoeg word.
In die afdeling vir meganisasiekoste word die koste van ál die verskillende groottes trekkers, stropers, vragmotors en bakkies uiteengesit.
Koste, soos die brandstofkoste, herstelwerk en waardevermindering vir die verskillende werktuie, word uitgedruk as 'n koste per hektaar. Die boer kan dan uitwerk wat 'n bewerking hom gaan kos en moontlike alternatiewe oorweeg om sy meganisasiekoste te optimaliseer.
Vir trekkers word alle moontlike aspekte, soos onder meer die verskillende werktuie wat saam met die trekker gebruik kan word, die werkwydte van werktuie en die werkdiepte, in berekening gebring om die totale vaste koste te bepaal.
In die artikel oor korrekte grondbewerking hiernaas is 'n praktiese voorbeeld van hoe die boek gebruik kan word.
22 Julie 2005