Ritlee se TM3-komposdraaier, wat plaaslik deur dié Suid-Afrikaanse maatskappy vervaardig word, kan gebruik word om kompos op groot skaal om te werk. Die komposdraaier kan aërobiese kunsmis met ’n hoë mikrobe- en swaminhoud maak om die koolstof en organiese materiaal in die grond te verbeter.
Die draaiproses plaas suurstof in komposhope en breek anaërobiese strukture af om die hoë temperature te verlaag wat weens die anaërobiese fermentasieproses ontstaan. Die TM3 draai die kompos so sagkens moontlik sodat die mikrobes en swamme nie beskadig word nie.
Die draaier word aan ’n trekker se driepunthaakstelsel gekoppel. Dit kan ’n drie meter wye ry kompos van 1,5 meter hoog en enige lengte verwerk. Teen ’n grondspoed van 300 meter per uur kan 675 m³ kompos per uur verwerk word. ’n Trekker van 45 kW of groter met ’n kruiprat is ’n vereiste.