
Die Indiese multinasionale handelsmerk, BKT Tires (BKT), het aangekondig dat hy nou Cyclic Field Operations- (sikliese veldbedrywighede) sertifisering vir van sy hoëflottasie-landboubande behaal het. Volgens verskeie aanlyn bronne is CFO-gesertifiseerde bande geskik vir voertuie soos stropers, trekkers en landbouwerktuie wat gereeld wissel tussen swaar en lig belaai.
’n Verklaring deur BKT lui dat hoewel ’n IF- (verhoogde buigbaarheid) gesertifiseerde straalband 20% meer vrag as ’n standaardstraalband kan dra, indien so ’n IF-band ook CFO-gesertifiseer is, kan dit 55% meer vrag dra sonder dat dit nodig is om die band stywer te pomp.
IF- en VF- (baie hoë buigbaarheid) gesertifiseerde landboubande het gewild geword omdat dit grondverdigting weens swaar werk in die landerye, soos tydens oestyd, verminder. Dié bande se sywande kan veilig buig terwyl hulle onder vrag is en dit gee elke band ’n groter spoor op die grondoppervlak. Op sy beurt versprei dit vraggewig oor die grond en daardeur help dit om grondverdigting te verminder.
BKT meld dat ’n aantal van sy IF- en VF-gesertifiseerde landboubande, soos sy Agrimax Force- en Agrimax V-Flecto-reekse, nou CFO-gesertifiseer is en dit sal voortaan op dié bande aangedui word.
“Met CFO-sertifisering praat ons van robuuste bande met ’n groot spoor wat gebruik word in siklusse van ligter en swaar vragte. Dit is byvoorbeeld die geval met stropers tydens oestye of sleepwaens wat graan vervoer. Met dié voertuie is ’n aansienlike gewigstoename die afgelope jare aangeteken vergeleke met ander plaasmasjinerie,” lui die verklaring.
Dit voeg by dat IF- en VF-gesertifiseerde landboubande wat ook CFO-gesertifiseer is, veral voordelig is vir masjinerie wat in nat of modderige toestande moet werk wat grond dikwels aansienlik meer vatbaar vir verdigting maak. Voor die koms van sulke bande moes baie boere teen groot koste plant of oes onderbreek totdat grond genoeg uitgedroog het om dié bedrywighede te hervat.
“Deur dié bande te gebruik saam met behoorlike sikliese beplanning sal boere meer oes- en plantgeleenthede hê. Die unieke eienskappe van CFO-bande lei tot verhoogde doeltreffendheid en produktiwiteit in boerderybedrywighede, en verbeter die verrigting en duursaamheid van bande,” sê BKT.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.