Hy het nie net op arbeid nie, maar ook op water bespaar. Boonop is hy oortuig dat gewasse wat met dié stelsel benat word, beter presteer.
Toe mnr. Greg Vroom (26) van Thornfarm, Grahamstad, ses jaar gelede sy groenteboerdery laat vaar het om op die melkwa te klim, was dit nie weens 'n tekort aan water nie, maar weens die plaas se topografie en die langwerpige blokke lande dat hy nie (soos die meeste ander melkboere in die Oos-Kaap) 'n spilpunt kon oprig om die aangeplante weidings te besproei nie.
Die plaas van 100 ha, waarvan 85 ha met aangeplante weidings gevestig is, grens aan die plaaslike township. Omdat diefstal hier 'n groot probleem is en hy al baie geld aan plaaswagte bestee het, het hy 'n besproeiingstelsel verkies wat met so min arbeid moontlik behartig kon word.
Gelukkig is daar nie 'n tekort aan water op Thornfarm, waar Vroom en sy pa, Graham, met 450 melkkoeie boer nie. Die plaas grens aan die suiweringswerke van Grahamstad en die lande word besproei met die gesuiwerde rioolwater wat in 'n rivier gestort word.
By navraag oor watter stelsel die beste sou wees om sy tradisionele impakstelsel te vervang, het Vroom van Floppy Sprinkler te hore gekom. Dié stelsel wat deur 'n maatskappy op Nelspruit in Mpumalanga ontwikkel en gepatenteer is, is reeds met verskeie plaaslike en internasionale toekennings bekroon.
Die stelsel is verstommend eenvoudig. Die sproeier bestaan uit ses, nie slytende onderdele, wat min instandhouding verg. Sodra die waterdruk in die toevoerpype verhoog, word 'n elastiese silikoonpypie in die sproeier na bo uitgestoot. Met die vrystelling van die water begin die pypie in die rondte tol en laat eenvormige waterdruppels, sonder enige misvorming vry. Elke sproeier is met 'n vloeibeheerder toegerus wat konstante watervloei verseker.
Vroom sê omdat die druppels wat vrygelaat word, betreklik groot is, kan die stelsel selfs op erg winderige dae doeltreffend gebruik word. "Die eenvormige druppels verseker dat die grond nie maklik kompakteer nie. Gewasse met fyn saad ontkiem maklik in dié stelsel.
"Elke sproeier lewer 730 liter per uur. Danksy die ingeboude vloeibeheerder kan akkurate besproeiing selfs teen hellings gedoen word. Na gelang van die grootte sproeier wat gekies word, wissel die bruto neerslag van 4,2 mm tot 5 mm per uur."
Die stelsel is só akkuraat dat hy ook sy bemesting (ureum wat in water opgelos word) en die toediening van onkruiddoders daardeur kan doen.
Die floppie kan op twee maniere geïnstalleer word. Vir gewasse, soos suikerriet, word die sproeiers aan opleipype gekoppel. Wanneer die lande gebrand word, word die pype uit die landerye verwyder en weer in die begin van die groeiseisoen teruggeplaas.
Die permanente oorhoofse kabelstelsel op Thornfarm wat sowat 26 ha beslaan, bestaan uit laterale lyne op pale wat 5 meter hoog en 12 meter uitmekaar is en oor die breedte van die land opgerig is. Die sproeiers is 14 meter uitmekaar op die lyn geplaas. Die sproeikoppe op die aangrensende lyn vorm 'n driehoek met die vorige lyn wat gelykmatige benatting verseker.
Die een deel van die stelsel wat hoofsaaklik as weiding vir die melkbeeste gebruik word, is in blokke opgedeel. Sowat 2 ha kan gelyktydig benat word. Op die ander deel, waar kuilvoer gemaak word, het elke lyn 'n afsonderlike kraan wat na behoefte oopgedraai kan word om kleiner oppervlaktes op 'n keer te benat.
Vroom sê omdat sy plaas betreklik klein is, is die groot voordeel van die stelsel dat daar geen uitvalhoeke, soos met spilpunte, is nie. Geen toerusting hoef verskuif te word wanneer die lande bewerk word nie. Op warm dae kan gewasse vinnig afgekoel word deur die stelsel net vir sowat 10 minute oop te draai.
"Omdat die stelsel permanent is, kan minder water meer gereeld toegedien word. Dit beteken dus dat waterbestuur so toegepas word dat dit nie buite die gewas se wortelsone strek nie. Water en kunsmis word gevolglik doeltreffender gebruik. Dit beteken dat die toediening doeltreffender as in baie van die ander stelsels is," benadruk hy.
Volgens die vervaardigers beloop die toedieningsdoeltreffendheid van die floppie 89 % (die toetse is deur die Waternavorsingskommissie gedoen), wat baie beter is vergeleke met ander stelsels wat vir oorhoofse besproeiing gebruik word.
Vroom stem hiermee saam en sê hy kon al 'n merkbare verskil waarneem in die opbrengs van die gewasse in dié stelsel en dié in die impakstelsel wat hy nog op sommige ander lande gebruik.
Hoewel die aanvanklike koste vir die oprigting van die floppies betreklik duur is (ongeveer R17 000/ha) meen hy dat die stelsel vir homself as 't ware daarna betaal. Hy het die afgelope drie jaar nie nodig gehad om enige instandhoudingswerk daaraan te doen nie. Omdat die stelsel net 'n druk van 2 bar benodig, word ook op elektrisiteit bespaar. Die sproeiers het 'n waarborg van vyf jaar. Die gebruiksduur van die silkoonpypies word op meer as 18 jaar bereken.
Die feit dat afvalwater van die suiweringswerke baie stikstof bevat, lewer ook 'n bonus. Vroom bereken dat elke 25 mm water wat toegedien word, gelykstaande is aan dieselfde hoeveelheid stikstof as 25 kg kalksteen-ammoniumnitraat (KAN).
Hy is nie spyt dat hy dié stelsel gekies het nie, want hy kan die 26 ha nou man-alleen besproei. "Gelukkig lyk dit ook asof die diewe tot dusver geen erg aan die toerusting het nie, waarskynlik omdat die skrootwaarde daarvan so gering is," sê 'n opgeruimde Vroom.
9 Desember 2005