
Rusland se graanoes het in 2017-‘18 op 133 miljoen ton te staan gekom, berig Reuters.
“Ons masjinerie oes sowat 80% van Rusland se graan,” vertel mnr. Ruslan Solomko, direkteur van streeksontwikkeling by Rostselmash. Hy besoek tans die Nampo-Oesdag om Rostselmash-werktuie aan die Suid-Afrikaanse mark bekend te stel.
“Ons is baie opgewonde oor die geleenthede wat ons op die plaaslike mark sien. Ons wil ook graag na die res van Afrika uitbrei vanaf ons basis in Suid-Afrika.”Die Rostselmash hou aan werk
Mnr. Gys Olivier, ’n boer van Hertzogville, sê hy is vier jaar gelede aan Rostselmash se produkte bekend gestel. Vanweë die ooreenkomste tussen die twee lande wat produksietoestande en arbeidsprobleme betref, was dit vir hom ’n aantreklike opsie om die maatskappy se masjinerie te begin gebruik.
Olivier boer ook in die Kongo en sê hy was beïndruk met die gehalte van dié masjinerie. “My ondervinding in Afrika is nadat al die ander masjinerie en trekkers al gebreek het, gaan die Rostselmash nog aan. ’n Operateur wat nie formele opleiding gehad het nie, kan dit ook maklik gebruik.”
Volgens hom maak die feit dat die masjinerie se onderdele nie buitensporig duur is nie en maklik vervang kan word, dit nog aantrekliker. “Ons ontwikkel en ontwerp nie net ons produkte om besigheid te doen nie, maar om die beste voordeel vir boere te bied,” aldus Solomko.Samewerking
Olivier en die maatskappy Feeler Africa het só baie in die produkte geglo dat hulle ’n ooreenkoms aangegaan het om Rostselmash se produkte na Suid-Afrika in te voer.
Mnr. BD Terblanché, een van die direkteure van Feeler Africa, sê die maatskappy bied verskeie landboudienste, soos die verskaffing van landboutoerusting, die vervaardiging van werktuie en finansiële dienste.
“Rostselmash het gesoek na ’n groep om hom te help om verhoudings te bou. Met ons direkteure se gekombineerde 85 jaar ondervinding as boere en in die landbou, was ons samewerking die logiese keuse.” Rostselmach en Feeler Africa het reeds sakebelange in Angola en Zimbabwe en hoop om binnekort na ander Afrikalande uit te brei.
In Zimbabwe het Feeler Africa en Rostselmach ’n maatskappy, Agro Tech Development, saam met mnr. David Tigere, een van dié land se grootste tabakboere, gestig. “Zimbabwe het ’n groot tekort aan stropers. Dié ooreenkoms bied aan ons die geleentheid om hierdie probleem te takel,” sê Tigere. Rostselmach se toerusting is vandeesweek op die Nampo-Oesdag te sien.