
Boere wat ’n mielieboerdery in die Noordwes bedryf het 138 nuwe trekkers en vier selfaangedrewe spuite bestel by Case IH, ’n vervaardiger van trekkers en landbouwerktuie.
Die trekkers en spuite word deur Northmec, Case IH se plaaslike verspreider, afgelewer as vernuwing en uitbreiding van mnre. Dirk Fourie en Pieter en PG van Zyl se vloot waarmee hulle elke jaar 18 000 ha mielies plant.
Die boerdery se trekker- en werktuigvloot bestaan reeds uit Case IH-produkte waaronder etlike selfaangedrewe stropers.
Die nuwe trekkers wat afgelewer word, bestaan uit 60 eenhede JX95 vierwielaangedrewe trekkers wat 72 kW (98 pk) lewer, 50 eenhede Maxxum 125 trekkers wat 93 kW (125 pk) lewer, 28 eenhede van die Magnum 340-modelle wat 250 kw (340 pk) lewer en wat baie onlangs in Suid-Afrika bekend gestel is.
Om die bestelling mee af te rond, word vier Patriot® 3330 selfaangedrewe spuitmasjiene afgelewer. Hierdie spuite se enjins lewer 185 kW (250 pk) en dit spog met ’n tenk wat 3 785 liters hou.
By die oorhandiging van die eerste trekkers van hierdie bestelling was, van links, mnre. Arno du Plessis, Northmec se produksiebestuurder van Case IH, Gustavo Pinto Teixeira, CNH se besigheidsbestuurder in Suid-Afrika, Stephen Tyler, CNH se Racine-aanlegbestuurder, Kobus Olwagen, Northmec se produkbestuurder van Case IH, PG van Zyl (jr.), Johan van der Merwe, besturende direkteur van Northmec, Pieter van Zyl, Braam van Greunen, Paul Viljoen, verkoopsbestuurder by Northmec, en Dirk Fourie (sittend). (Foto: Verskaf deur Northmec/Case IH)
10 November 2011