'n Boer gebruik ou oliedromme om vir hom goedkoop krippe te bou wat ideaal werk vir sy vee.
Ou oliedromme wat dikwels nutteloos rondstaan, is deur mnr. Karel Swart van die plaas Dupperspos, naby Hartbeesfontein in die distrik Klerksdorp, met 'n blink plan in nuttige krippe omskep.
Hy gebruik twee ou dromme van 210 liter elk. Die een halveer hy in die lengte en die ander een halveer hy in die breedte tot in die middel en sny die een kant dan verder in die lengte oop sodat dit 'n halwe drom is met 'n kappie oor die ander helfte.
Die helfte van die drom waaraan die kappie gelaat word, word so gesny dat die klein proppie (¾ duim of 20 mm) bo is, want dit is waar die bolklep ingedraai word om die toevloei van die water na die krip te reël. Die bolklep pas presies daarin en die skroefdraad stem ook ooreen.
Die dakkie wat deur die helfte van die volledige drom gevorm word, beskerm die bolklep sodat dit nie deur die vee beskadig word nie en dit word toegemaak met die halwe deksel van die ander kant van die drom.
Die twee halwe dromme word aan mekaar vasgeswys. Heel onder word 'n verbindingspyp deur die wande van die dromme ingesit sodat die water van die een helfte na die ander helfte kan vloei.
Swart bou 'n staander uit 8 mm-buismetaal en ou ysterdraadsparre vir die krip. Nadat die werk klaar is, word die bakke skoongemaak en met 'n damseëlaar geverf om te voorkom dat dit roes.
Die water word met 'n pyp aan die bolklep verbind en as die krippe vol is, sluit die bolklep die toevoer af.
Karel sê die krip het sowat R150 gekos om te maak en dit is ideaal vir skape, beeste en perde.
- Navrae: Mnr. Karel Swart, sel 083 652 2254.
Landbouweekblad, 21 September 2007.