'n Eenvoudige meganiese meter waarmee 'n boer dadelik kan opmerk hoeveel diesel in sy opgaartenk oor is, kan voorkom dat hy ooit sonder diesel gevang word.
Mnr. Ove Scheuble, 'n afgetrede graan- en skaapboer van die plaas Elandskloof, Napier, het die meter twintig jaar gelede ontwerp omdat hy self 'n behoefte ervaar het aan 'n maklike manier om te weet hoeveel diesel nog in sy tenks oor is.
Dié meter bevat geen elektroniese toerusting nie en het ook geen batterye nodig nie. Dit pas op standaard bogrondse dieseltenks van 2 270 l. Met 'n klein aanpassing kan dit ook op tenks van 4 500 l en 9 000 l pas.
Die meter word eenmalig in die tenk se opening geïnstalleer en hoef nie verwyder te word as die tenk volgemaak word nie. Die ontwerp is op meetkundige beginsels gegrond en die lesing is baie akkuraat. Aan die onderkant van die toestel is 'n arm met 'n koperbal aan die punt wat styg en daal na gelang van die dieselvlak binne die tenk. Aan die bokant van die opening is 'n voorafgemerkte wyserplaat en wyser wat toon of die tenk vol, driekwart, half, kwart of in sy reserwe is.
Die boer kan sommer uit sy bakkie sien hoeveel diesel oor is en vroegtydig nuwe voorraad bestel. Sodoende kan hy verseker dat hy nie sonder diesel sit nie en verliese weens werktuie wat stilstaan, uitskakel. Hy het ook groter beheer oor sy diesel en kan gou agterkom as dit buitengewoon vinnig minder word. Nóg 'n voordeel van die meter is dat dit die nodigheid uitskakel dat iemand met 'n maatstok op die tenk klim om die brandstofvlak te meet. Dit spaar nie net werkstyd nie, maar voorkom ook besoedeling van die diesel. Sand wat deur die maatstok in die tenk beland, kan groot skade aan 'n voertuig se enjin aanrig.
Scheuble sê die meter behoort dekades lank te hou aangesien dit van duursame materiaal gemaak is. 'n Groot deel van die toestel bestaan byvoorbeeld uit gegalvaniseerde staal wat met 'n laag epoksiehars bedek is.
Hy sê hy het 'n voorraad van die meters in Kaapstad laat maak en kan dit aan boere verskaf. Dit sal ongeveer R850 kos, wat afleweringskoste tot by die naaste poskantoor insluit. "Die installering is maklik en ek sal ál die instruksies insluit", sê Scheuble.
5 Maart 2004