Sedert hy vyf jaar gelede sy grensdrade geëlektrifiseer het, het 'n bekende Dorperteler van die Boesmanland nog bitter min probleme met jakkalse gehad. Die afgelope twee jaar is geen lam op sy plaas doodgebyt nie.
Hy was die eerste boer in sy gebied wat sy grensdrade geëlektrifiseer het. Dit werk uitstekend en het nou al 260 km elektriese grensdrade. Daarby kos dit baie minder as om jakkalsproef-draad te gebruik, sê mnr. Martin Compion van die plaas Spieëlpan, Pofadder.
Hoewel hy bewys het dat sy elektriese grensdrade jakkalse uithou, sê hy dit is geen kitsresep om jakkalse van die plaas af te hou nie. As die lyne nie gereeld onderhou word nie, kom kortsluitings en ander probleme voor en werk die lyne eenvoudig nie.
Deur die jare het hy al heelwat oplossings vir probleme met die elektriese heinings gekry. Waar jakkalsproefdraad gebruik word, is die proses baie eenvoudig. Die elektriese drade word weerskante van die heining aangebring. By 'n gewone veeheining moet ekstra drade tussenin gespan word sodat daar sowat 12 tot 14 drade aan 'n heining van 1 m hoog is. Voordat die elektriese draad gespan word, moet sowat 5 m weerskante van die grensdraad geskoffel word.
Die elektriese draad moet aan weerskante van die jakkalsproef of gewone veeheining aangebring word. As daar net aan die een kant 'n elektriese draad is, grawe die jakkals onderdeur en wanneer hy die skok voel, is hy reeds onder die heining deur. Waar jakkalsproef in klipperige gebiede gebruik word sodat die draad vasgepak kan word, is elektriese drade nie nodig nie.
Die elektriese draad moet sowat 250 mm van die bestaande draad af en so na moontlik aan die grond - naastenby 30 mm tot 40 mm van die grond af - gespan word om die doeltreffendste te wees. Die twee drade aan weerskante van die grensdraad word geëlektrifiseer en die negatief aan die bestaande draad gekoppel om as gronddraad te dien. Die twee drade word elke 500 m verbind om 'n meer konstante stroom te kry. Met 'n trektol word die draad styf gespan.
Kraglyne moet nie langer as 500 m wees nie om die korrekte spanning te verkry. Die spanning is belangrik, want die porselein-trektolle breek maklik as die draad te styf gespan is. Wanneer dit baie koud word, krimp die draad en kan die tol ook breek.
Uit jare se ervaring het Compion bevind die wit plastiektolletjies waardeur die draad getrek word, disintegreer ná sowat drie jaar tot vyf jaar. Dan moet daardie seksie oorgespan word. Hy het bevind swart of rooi tolletjies werk beter.
Hy maak van 'n nr. 10 of nr. 12-draad 'n toestelletjie (ophalertjie) om die draad op die regte hoogte van die grond af te hou. Wildsbokke of skape kan dikwels naby aan die grensdraad beweeg en die elektriese draad raaktrap en 'n kortsluiting veroorsaak. Om dit te verhoed, slaan hy ysterpenne in waarmee die draad op die regte hoogte en afstand van die grensdraad gehou kan word.
Hy gebruik sonpanele van 75 watt - wat voldoende is vir 'n elektriese lyn van 15 km tot 20 km. Deur die panele reg op die middagson te rig, word genoeg krag opgewek om die heining die hele nag te elektrifiseer. Die krag word in 'n droëselbattery van 180 ampère opgeberg. Van daar af gaan dit deur 'n omsetter na die heining. Twee verskillende toestelle, 'n Stafic of 'n Map, is geskik vir die doel, sê Compion.
Die sonpanele word in die middel van 'n lyn geplaas eerder as aan die begin. Wanneer herstelwerk nodig is, word net die een helfte van die grensdraad afgeskakel.
Dit is belangrik dat die krag gereeld getoets word. Die beste tyd is kort voor sonsopkoms, want as daar dan nog elektrisiteit beskikbaar is, werk die stelsel reg. Baie mense toets die stelsel net in die dag wanneer die son skyn en die lesing dan vanselfsprekend hoog is.
Erdvarke grawe dikwels in sagte grond gate onder die heinings deur wat 'n maklike kans aan jakkalse bied om aan die ander kant van die draad te kom. Die oplossing vir só 'n ontsnaproete is om 'n stukkie gaas of draad van die elektriese draad af in die gat te laat hang sonder dat dit aan die grond raak. Wanneer die dier deur die gat kruip, word hy geskok.
Die lyne moet gereeld nagegaan word anders is hulle nie doeltreffend nie. Die stroke langs die grensdraad moet twee tot drie keer per jaar geskoffel of skoongespuit word sodat bossies nie aan die elektriese draad raak en kortsluitings veroorsaak wat die krag al hoe swakker maak nie. Gras lewer geen probleme op nie.
Wat die koste betref, klop Compion se elektriese heinings ander heinings. Wanneer dinge soos ekstra drade, spankoste, sonpanele, elektriese apparaat en batterye, tolletjies en draad in berekening gebring word, kos 1 000 m elektriese heining van 1 m hoog R3 153. Daarteenoor kos 'n jakkalsproefdraad R13 000 per 1 000 m.
As 'n boer 50 lammers per jaar verloor, is sy verlies R22 500. Daarmee kon hy 7 km elektriese draad aangebring het, is Compion se berekening.
28 Oktober 2005