Dié boer het 'n eenvoudige windpomp ontwerp wat hy self op die plaas maak. Dit is nie net goedkoop om op te rig nie, maar jaag hom ook nie geld vir onderhoud uit die sak nie.
Elke Karoo-boer het ondervinding van die tydrowende gefoeter wat kan volg as 'n windpomp breek.
Mnr. Jéan Gillmer van die plaas Droëfontein, tussen Hanover en Middelburg, is geen uitsondering nie. Sy boerdery is van 40 windpompe afhanklik wat onderhou moet word, en Gillmer ken van kleins af die gesukkel dikwels 'n duur en onsuksesvolle oefening as dié onmisbare masjiene begin moeilikheid gee.
Dit het hom genoop om sy eie windpompe te ontwerp en te bou. Die resultaat is 'n relatief eenvoudige, maar doeltreffende apparaat sonder ratte en olie, en met 'n kop, stert en wiel wat saam maar so by die 35 kg weeg. Nie een van die onderdele is ingevoer nie. Inteendeel, die meeste maak hy self op die plaas. As 'n onderdeel sou breek, kan 'n boer dit self herstel; hy hoef nie 'n spesialis-tegnikus daarvoor te betaal nie.
Van Gillmer se 40 windpompe is elf nou al met sy eie model vervang. Die eerste een, wat hy vier jaar gelede gemaak en opgesit het, werk steeds sonder enige probleme.
Die self-ontwerpte windpomp werk volgens dieselfde beginsel as 'n motor se kruk-as: Die pompaksie word verkry deur 'n draaiende, geseëlde koeëllaer waaraan 'n ysterstaaf vasgesweis is. Omdat die staaf aan die een kant van die laer se binneste ring geheg is, word die nodige slag verkry sodra die laer draai.
Twee kussing-laers aan weerskante hou die spil in plek.
Die wiel met sy windskeppers vervaardig Gillmer ook self. Hy sê hy gebruik ses skeppers vir 'n boorgat wat sowat 30 m diep is. As water egter dieper uitgehaal moet word, sit hy nóg skeppers aan die wiel. Vir dele waar die wind min is, maak hy langer skeppers.
Die briekstelsel is meganies. Dit werk net met die stert, en nie soos in geval van 'n konvensionele windpomp met 'n remskoen óók nie. Gillmer sê hy kry gewoonlik mediumsterk wind op sy plaas, en hou sy pompe meestal halfpad gebriek.
Die kop, stert en wiel bestaan uit drie dele, wat een mens binne tien minute met boute op 'n windpomp-toring kan vasdraai. Dit is lig genoeg vir een mens om teen die toring op te dra en die wiel het vir dié doel 'n handvatsel aan.
Gillmer kan 'n kop pasmaak om op enige bestaande pypstelsel te pas. Hy is egter ook in die proses om sy windpompe se staalpype met PVC-pype te vervang. Vir drie PVC-lengtes van 3 m elk betaal hy dieselfde prys as vir een gegalvaniseerde staalpyp. Dit skakel die roesprobleme uit wat meebring dat die staalpype by hom 'n gemiddelde leeftyd van ses tot agt jaar het. Die oudste PVC-stel hou nou al twee jaar op sy plaas.
'n Gids van Vesconite rondom die ysterstang keer dat dit die PVC-pype deurskuur.
Gillmer se windpomp werk met 'n kortslag-silinder. Dit is 'n Jooste-silinder met 'n deursnee van 70 mm (teenoor die normale 50 mm), wat vir hom spesiaal die helfte korter gemaak word as die silinders van standaard-lengte. Gillmer sê dié lengte kan ingeboet word omdat sy windpomp nie 'n lang slag nodig het om doeltreffend te werk nie.
Vergeleke met konvensionele windpompe en sonpompe is die Gillmer-model heel doeltreffend: Sy windpompe gooi van 800 liter tot 1 200 liter water per uur in mediumsterk wind (en met die 70 mm-silinder).
Dit het hom die afgelope vier jaar geneem om met proewe die regte verhoudings tussen die verskillende onderdele te bepaal, maar nou is hy tevrede dat hy 'n wenresep het. Boonop is sy windpompe relatief goedkoop die eerste een het hy bykans volledig uit afvalmateriaal gemaak wat op die werf rondgelê het. Sy nuwe, versterkte pompe kos sowat R3 000.
Gillmer het sy ontwerp gepatenteer.
Navrae: Mnr. Jéan Gillmer, tel. 049 843 1434.
14 Januarie 2005