Mev. A.J. van de Merwe en mnr. H.B. Dunn se Aangewys-boerdery van Bethal in Mpumalanga produseer hoofsaaklik mielies wat met grootmaat-sleepwaens agter trekkers na die naaste silio's vervoer word.
Mnr. Marius Lesch sr., die plaasbestuurder van Aangewys-boerdery, sê dié boerdery plaas 'n baie hoë premie op kostebesparing en die goeie instandhouding van voertuie en werktuie. Hoewel die nagaan van die druk in die buitebande een van die roetinetake is, is een van die dilemmas pap buitebande van veral sleepwaens met 'n vol vrag mielies. Die buitebande word dikwels beskadig deur skerp voorwerpe en slegte padtoestande.
Die trekkerdrywer kom meestal ook heeltemal te laat agter een van die bande is pap. In dié proses word die buiteband, binneband, bandvoering en dikwels ook die velling onherstelbaar beskadig. Die vervang-ingskoste hiervan is tans sowat R2 500 per wiel en dan moet die staantyd vir die herstelwerk ook nog bereken word.
Dit was om hierdie rede dat Lesch sr. besluit het om 'n toestel te ontwerp wat die probleem met pap wiele finaal sou kortvat. Die toestel bestaan uit 'n aan-af-skakelaar wat deur 'n hefboom geaktiveer word by elke wiel, asook 'n gonser in die trekkerkajuit, of 'n strategies geplaaste waarskuwingslig op 'n oop trekker se instrumentepaneel. Dié papwiel-waarskuwingstelsel ("Tyre deflation monitor" - patentnommer 2004/7137) gebruik 'n oop elektriese stroombaan en word aan die trekker se elektriese stelsel gekoppel.
'n Swaardiens-skakelaar, wat water- en stofdig is, word by elke wiel gemonteer op die plaat waaraan die bladvere vasgebout word om die skakelaar so naby moontlik aan die wiel te plaas. Die lengte van die skakelhefboom, 'n veerstaaldraad, kan verstel word. Hoe langer hierdie hefboom, en dus hoe nader aan die grondoppervlak, hoe meer sensitief is dit. Die skakelhefboom kan dus só verstel word dat die skakelaar die gonser (óf die waarskuwingslig) aktiveer as die wiel byvoorbeeld een derde van sy normale druk verloor het en voordat enige skade kan plaasvind.
Aangesien die stelsel 'n oop elektriese stroombaan gebruik (en dus negatief ge-aard is) hoef slegs een bykomende (positiewe) kragdraad by die normale elektriese sok vir die sleepwa-ligte gevoeg te word.
Indien die skakelhefboom baie sensitief gestel is, behoort die alarm ook te waarsku as 'n wiellaer onklaar raak.
Aangesien die stelsel so eenvoudig is, kan die trekkerdrywer elke dag maklik elke skakelaar aktiveer om seker te maak dat die stelsel werk. Indien die alarm sou afgaan, bied dit die drywer nog redelik tyd om op 'n geskikte en veilige plek stil te hou om die wiel om te ruil.
Volgens Lesch sr. kan die stelsel op die meeste voertuie met enkelwiele aangebring word. Só kan dit byvoorbeeld by die voorwiele van vragmotors aangebring word waar 'n skielike pap wiel dikwels tot 'n ongeluk kan lei. Dit kan ook gemoedsrus beteken vir diegene met 'n woonwa, bagasiesleepwaentjie of 'n perdesleepwa agter 'n voertuig.
Lesch sr. glo hy kan die stelsel vir minder as R2 500 per vier wiele installeer. Hy beoog om dit ook as 'n doen-dit-self-stel te bemark indien die aanvraag dit regverdig.
- Navrae: Mnr. Marius Lesch sr., tel./faks 017 647 0099; sel 082 779-0787.