Niemand wat 'n "grys" trekker op die plaaslike mark koop, kan ondersteuning verwag ten opsigte van onderdele of diens deur die moedermaatskappy of handelaarsnetwerk nie. 'n Mens kan dus met reg die aanname maak dat "grys" trekkers minderwaardig is.
Ondanks 'n ondersoek na die toenemende invoer van "grys" trekkers, bring sekere leemtes in Suid-Afrika se wette mee dat sulke invoer tans nie verhinder kan word nie. Gevolglik het die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Salma) sy kommer daaroor uitgespreek.
"Gebruikers, handelsbanke en ander betrokkenes moet van dié praktyke bewus gemaak word," sê mnr. Nic Sanders, voorsitter van Salma.
"Grys" trekkers verskyn op die toneel wanneer onafhanklike maatskapye dit in lisensie van iemand anders vervaardig en 'n handelsnaam/handelsmerk daaraan mag koppel. Etlike handelsname, soos Massey Ferguson, Fiat en Ford, wat só in lisensie vir sekere markte vervaardig word, kan as voorbeelde genoem word.
Sulke produkte mag alleenlik binne benoemde gebiede of lande bemark en verkoop word, maar dié vereiste word soms omseil. In die lande vir wie die trekkers eintlik bedoel is, word dit dikwels verkoop aan handelaars wat daarop uit is om 'n vinnige wins te maak. Hulle stel die trekkers dan nooit beskikbaar aan die gebruikers in die benoemde gebied of land nie, maar gaan transaksies aan wat blote skuiwe op papier is.
Met dié stelsel val die verhandelde eenhede meestal onder die subsidieskema wat daarvoor ingestel is en die trekkers is as't ware tweedehandse goedere.
Omdat hierdie trekkers nie deur die eienaars van spesifieke handelsmerke vervaardig word nie en die eienaar ook nie by die prosesse betrokke is nie, ontstaan 'n situasie dat 'n wye verskeidenheid onderdele herontwerp word. Oorspronklike gehaltestandaarde word nie op sulke herontwerpte toerusting toegepas nie en gevolglik voldoen dit nie noodwendig aan die vereistes van die handelsmerk of die oorspronklike vervaardiger nie, sê Sanders.
Volgens hom voldoen "grys" trekkers nie aan die voorgeskrewe veiligheidsfaktore nie. Die aanname kan dus gemaak word dat "grys" trekkers minderwaardig is.
Niemand wat 'n "grys" trekker op die plaaslike mark koop, kan ondersteuning ten opsigte van onderdele of diens deur die moedermaatskappy of handelaarsnetwerk verwag nie.
Salma se lede spreek nie net hul kommer oor die voorafgaande praktyke uit nie, maar hulle wil dit onder verbruikers se aandag bring dat die invoer van "grys" produkte groot verwarring en verlies tot gevolg kan hê, sê Sanders.
Die bekende landbou-ekonoom prof. Johan Willemse meen boere is weens die lae stand van die landbou se ekonomie geneig om goedkoper produkte te koop. Dit skep groter risiko's op plaasvlak en suurdeeg ook na landbou-ondernemings deur wat dan daaronder ly.
Op sy beurt sê Sanders: "Dié praktyk ondergrawe die ganse plaaslike mark, wat in elk geval betreklik klein is. In Amerika het wetgewing 'n einde gebring aan die invoer van alle 'grys' trekkers en Salma sien daarna uit dat dit ook hier gebeur."
Hoewel die Verbruikersakekomitee in
die Staatskoerant aangekondig het dat hy sulke invoer gaan ondersoek, is Salma steeds bekommerd daaroor. Die Verbruikersakekomitee, wat ingevolge die Wet op Verbruikersake bedryf word, wil onder meer vasstel of die betrokke produkte behoorlik aan verbruikers uitgewys word sodat hulle ingeligte keuses kan maak.
Sulke trekkers word plaaslik verkoop sonder die moedermaatskappy se toestemming en waarborg.
Salma is weliswaar nie 'n waghond nie, maar 'n organisasie wat daarna streef om die landbou deur verbeterde kommunikasie te dien asook deur die beskikbaarstelling van tersaaklike inligting oor landboumasjinerie en -toerusting.
Hoewel lidmaatskap tot Salma op sigself geen waarborg bied vir diegene wat produkte by Salma-lede koop nie, plaas geakkrediteerde lidmaatskap tot die organisasie grootliks 'n verantwoordelikheid op die lede om toe te sien dat hul produkte aan sekere norme, standaarde en behoeftes voldoen.
21 Julie 2006