Op die meeste skaapplase beteken lamtyd ook dat daar lammers is wat met die hand grootgemaak moet word. "Met min werkers word hanslammers gewoonlik die boer se vrou se taak," sê me. Adele Pretorius van Stormberg, Vrede.
Omdat nie al die lammetjies ewe sterk is nie, moet die hoeveelheid melk wat 'n lam ontvang na gelang van elkeen se behoefte aangepas word. Dit beteken elkeen moet op sy eie gevoed word, wat die versorger se taak bemoeilik.
Haar oorlede man het dié probleem opgelos met 'n verskuifbare voerhok wat hy gebou het. Dit het afskortings vir tien lammers.
Die hok se raam is van ronde ysterstawe gebou. Die kante van die hok en die afskortings is van draad en met ondeursigtige sakke oorgetrek sodat die lammers nie mekaar se aandag aftrek nie. Die afskortings is net sowat 200 mm breed sodat die lammers nie veel daarin kan rondbeweeg nie. Die hok is omtrent 2 meter lank, 740 mm breed en 680 mm hoog.
Aan die een kant van elke afskorting het haar man twee ringe van yster skuins vasgesit waarin 'n koeldrankbottel van 500 ml pas. Die boonste ring het 'n deursnee van 70 mm en die onderste ring 'n deursnee van 450 mm. Die afstand tussen die ringe is 130 mm. Die lammers word met hulle koppe in die rigting van die melkbottel in die hok gesit. Wanneer hulle klaar gedrink het, word die voorkant van die hok opgelig en loop hulle self uit om verder aan die vaste kos in die kampie te vreet.
Volgens haar kry al die lammers danksy die hok sonder moeite die regte hoeveel melk, wat beteken hulle word suksesvol grootgemaak. Sy sê danksy 'n 100 % suksessyfer is dit finansieel steeds die moeite werd om hanslammers groot te maak. Boonop spaar die hok ook baie tyd.
Sy het die hok aan me. Ilse Lombaard van Kleingeluk Boerdery in die distrik geleen en Lombaard sê dit neem nou net 20 minute om 80 hanslammers melk te gee, waar dit voorheen 'n reusetaak was wat twee uur geduur het.
4 Junie 2004