Mnr. Jannie Myburgh, ’n boer van Ermelo wat bekend is om al die plaaswerktuie wat hy self ontwerp, het nou ook ’n oplossing gekry vir die hantering van die groot katoenbale wat deur nuwerwetse katoenstropers gemaak word.
Om met hierdie bale te werk, is vir baie boere ’n nagmerrie omdat die bale 2,3 m in deursnee en 2,3 m hoog is, en 2,3 ton weeg. Dié afmetings is buite die vermoë van die meeste opteltoerusting op plase.
Myburgh sê boere het ’n knakkerlaaigraaf nodig om die bale te kan laai. Die laaigraaf moet met ’n vragmotor na die plaas vervoer word, wat die koste vinnig laat handuit ruk. Myburgh se oplossing is ’n vurkhysermas van 2,5 ton wat verander is in ’n trekker-driepuntmodel.