Twee eeue gelede is John Deere, die vader van die eerste staalploeg en die reuse-onderneming wat daaruit gegroei het, gebore. Hy het die grondslag gelê en beginsels daargestel wat vandag nog toegepas word.
Uit 'n eenman-grofsmidonderneming het die magtige John Deere-organisasie gegroei. Dieselfde sakebeginsels en waardes wat dié grofsmid 200 jaar gelede laat slaag het, word vandag nog in dié maatskappy nagestreef. Dit is onder meer gehalte, navorsing, produkontwikkeling, integriteit en toewyding.
John Deere is op 7 Februarie 1804 in Vermont, Amerika, gebore en op sewentien het hy sy vakmanskap van vier jaar begin om die fyner kunsies van die grofsmidbedryf onder die knie te kry. As 21-jarige het hy sy onderneming begin en gou naam gemaak met die puik werktuie wat hy vervaardig het veral sy blink afgewerkte grawe en hooigaffels was gesog.
Toe die ekonomie in die 1830's begin knyp, het hy sy gesin (sy vrou was swanger) agtergelaat en met sy gereedskap en 'n bietjie kontant weswaarts getrek. Hy het hom in die dorpie Grand Detour, Illinois, gevestig. Die behoefte aan 'n grofsmid was só groot dat hy binne twee dae nadat hy in 1836 daar aangekom het, 'n werkswinkel opgerig en begin werk het.
Een van die groot probleme wat die boere daar erg gefrustreer het, was die gietysterploeë wat in die vrugbare leemgrond só aangepak het dat dit feitlik onbruikbaar was. Nadat hy die probleem bestudeer het, was sy gevolgtrekking dat 'n ploeg met 'n gepoleerde en nuut ontwerpte rysterbord en skaar die oplossing sou wees.
In 1937 het hy só 'n ploeg van onder meer 'n gebreekte saaglem gebou en op die plaas van Lewis Crandall, naby Grand Detour, getoets. Dit was die oplossing waarna die boere gesoek het.
Maar sy bydrae tot die groei van die Amerikaanse landboubedryf was baie groter as bloot die ontwikkeling van die eerste staalploeg. Destyds is werktuie net op bestelling gemaak, maar John Deere het ploeë begin bou nog voordat hy bestellings daarvoor gehad het.
Ondanks probleme het sy bedryf gegroei sodat hy mettertyd staal uit Engeland moes invoer. Die eerste ploeg van Amerikaanse staal het in 1848 uit die nuwe fabriek in Moline, Illinois, gekom.
Tien jaar nadat hy sy eerste ploeg gemaak het, het John Deere al 1 000 ploeë per jaar gemaak en verskeie beginsels neergelê wat deur die jare deur die onderneming in stand gehou is.
Daaronder was die besonder hoë waarde wat hy aan gehalte en vakmanskap geheg het. "Ek sal nooit my naam op 'n produk sit wat nie die beste in het wat ek in my het nie."
In 1858 het hy die leisels van sy onderneming aan sy seun Charles oorgegee. In 1868 is die onderneming saamgevoeg onder die naam Deere and Company.
John Deere is op 17 Mei 1886 in die ouderdom van 82 jaar oorlede. Moline was in rou. Vlae op die dorp en by die verskillende fabrieke het halfstok gehang en meer as 4 000 mense het sy begrafnis bygewoon.
Onder Charles Deere se leiding is 'n netwerk van onafhanklike handelaars gevestig om Deere se produkte te verkoop.
In 1911, onder leiding van die derde voorsitter, mnr. William Butterworth, is verskeie onderneming gekoop wat landbouwerktuie vervaardig. In 1918 het hy die Waterloo Gasoline Traction Engine Co. in Waterloo, Iowa, gekoop en met die bou van trekkers begin.
In 1928 het John Deere se agterkleinseun, mnr. Charles Deere Wiman, die leisels oorgeneem. Sy klem op ingenieursvernuf en produkontwikkeling het die onderneming vinnig laat groei. Ondanks die depressie van die 1930's het Deere & Co in 1937 'n bruto omset van $100 miljoen behaal.
Daarna het mnr. William A. Hewitt die beheer oorgeneem en vervaardigingsaanlegte en bemarkingseenhede wêreldwyd gevestig. Dit het die maatskappy die leidende vervaardiger van landbouwerktuie in die wêreld gemaak het.
Robert A. Hanson het in 1982 die bestuur oorgeneem en die onderneming deur die stormagtige 1980's gelei. Hy het dit 'n veerkragtige organisasie gemaak.
In 1990 is mnr. Hans W. Becherer as voorsitter verkies en in 2000 mnr. Robert W. Lane. Laasgenoemde het wye ervaring van bestuur en die bankwese en het toegesien dat Deere & Co. vandag, twee eeue ná die geboorte van John Deere, steeds 'n wêreldleier is. Die beginsels van produkontwikkeling deur navorsing en ononderhandelbare gehalte word vandag nog nagestreef.
13 Februarie 2004