As wynmaker het mnr. Leon Lingnau jare gelede te doen gehad met die proses waarmee klankgolwe gebruik word om bottels skoon te maak. Met dit in gedagte het hy aan die werk gespring om 'n tegniek te ontwikkel om drupperpyp skoon te maak.
Sy breinkind maak teen hoë frekwensies 900 m drupperpyp per uur skoon. Vier rolle van 100 m op 'n slag beweeg deur die proses in 25 minute. Die pype kom nie net skoon anderkant uit nie, maar word ook gesteriliseer, wat beteken dat siektes nie van een blok gewasse na 'n ander oorgedra word nie.
Hy bereken dat dit 3 c per meter kos om die besproeiingstoerusting van 100 ha skoon te maak (gemiddelde koste in 'n tydperk van 10 jaar).
Voorheen is aanvaar dat só 'n proses nie met plastiek kan werk nie omdat plastiek klank absorbeer en die pyp dus nie aan die binnekant skoongemaak kan word nie.
Dit is dié geheim wat hy ontrafel het. Die klankbad self is 2,5 m lank, terwyl die ontwerp in totaal 14 m lank is. Dit kan aangepas word vir spesifieke behoeftes en kan enige plastiekdrupperlyn hanteer.
Die bad is van vlekvrye staal omdat klank gewone metaal vreet en bevat 150 l water wat met 'n gewone swembadpomp en -filter gesirkuleer word. Klankwerking vereis 'n sekere volume en ruimte vir genoeg klank-aktiwiteit. 'n Bufferbad van 300 l sorg dat die water in die klankbad konstant gehou word omdat 11 l water per rol verlore gaan in die skoonmaakproses.
'n Aanjaagpomp word gebruik om teen hoë druk soveel water moontlik deur die drupperlyne te pomp om dit te spoel.
As demonstrasie is 20 filters, waarvan 12 nie gedrup het nie, in die bad gesit en almal het perfek gedrup nadat dit skoongemaak is. Sekondêre filters vir die drupstelsel kan ook in die klankbad skoongemaak word.
14 November 2003