Boonop kan gewasse benat word wanneer die kragkoste op sy laagste is.
Vra maar enige boer met 'n spilpunt op sy plaas watter tydrowende proses dit is wanneer 'n kragonderbreking van meer as 3 sekondes die stelsel lamlê en van punt tot punt gependel moet word om dit weer aan die gang te kry. In sommige gebiede kom tot vyf sulke onderbrekings, wat van 'n paar sekondes tot 'n paar minute duur, op 'n dag voor.
Mnr. Hardus Müller, 'n elektroniese ingenieur van Port Elizabeth, het 'n toestel ontwerp wat die lewe vir besproeiingsboere aansienlik makliker sal maak. 'n Outomaat skakel die spilpunt en die pomp weer aan 10 minute ná die kragtoevloei herstel is.
Hoewel nie 'n unieke uitvinding nie, is dit volgens hom die eerste stelsel van dié aard wat in Suid-Afrika gebou en op enige spilpunt, ongeag die model en ouderdom daarvan, geïnstalleer kan word.
Met die stelsel is dit moontlik om Eskom se Ruraflex-tydopsies optimaal te benut. Die outomaat kan geprogrammeer word om die spilpunt vorentoe of agtertoe te laat loop. Dit verminder slytasie van die bewegende dele. Dié opsie is veral nuttig op skuins lande.
Een dagtaak en vyf voorafbeplande opdragte kan op die kontrolebord ingevoer word. Die outomaat kan selfs geprogrammeer word om 'n hele week se take uit te voer. As die boer dus oor 'n naweek wil wegbreek, hoef hy hom nie te bekommer oor kragonderbrekings nie.
Een van die probleme van 'n spilpunt waar meer as een gewas op die land verbou word, is om dit noukeurig in te stel sodat dit tydens dieselfde siklus aan die verskillende gewasse se waterbehoeftes voldoen. Met dié outomaat kan die spilpunt gestel word om, sodra dit 'n gekose sektor bereik, stadiger of vinniger te loop en dus die verlangde neerslag vir 'n betrokke gewas te gee.
Danksy 'n skyf wat om die nek van die spilpunt pas en met 'n sensor toegerus is, kan 'n land van een tot 'n maksimum van agt segmente in intervalle van nege grade verdeel word. Hierdie verstelling moet egter in die sagteware van die program gedoen word. Die spilpunt skakel dadelik van een geprogrammeerde aksie na die volgende oor. Dit beteken dat water, kunsmis en onkruiddoders wat toegedien word, nie vermors word nie.
Die outomaat het verskeie ingeboude veiligheidskenmerke. As die kragtoevoer te hoog is of te laag daal, sal dit die hele stelsel afskakel. Daar is 'n ingeboude monitor wat die toerusting afskakel as die spilpunt nie in lyn loop nie of as 'n pyp bars.
Boere wat die toestel gebruik, sê hulle is in hul skik daarmee en dat dit beduidend goedkoper as die ingevoerde outomate is. Hulle meen nietemin dat verdere verfyning nodig sal wees vir die toestande wat van plaas tot plaas en selfs land tot land verskil. Hulle meen ook dat dit uit 'n bemarkingsoogpunt goed sou wees as die stelsel deur een van die land se bekende verskaffers van landboutoerusting gerugsteun word.
Die basiese model kos minder as R10 000. Die mees gevorderde stelsel kos sowat R14 000. Die waarborg geld 'n jaar lank en die prys sluit die installasiekoste in 'n omtrek van 150 km van Port Elizabeth af in. Die outomaat is modulêr, wat die vervanging en opgradering van onderdele maklik en kostedoeltreffend maak. Boere word in die werking daarvan opgelei as die stelsel geïnstalleer word.
Navrae: Müller, 041 360 7490; 082 579 6420.
30 Januarie 2004