Volgens dr. Jim Rankin, hoof uitvoerende beampte van Agfacts, het die grootte van die trekkervloot (alle modelle van nuut tot 20 jaar) sedert 1984 net een koers gevolg: Af. Die goeie nuus is dat dié neiging verlede jaar vir die eerste keer gestabiliseer het.
Agfacts hou statistiek van plaaslike trekkerverkope en monitor en vertolk die neigings in dié mark. Vir doeleindes van hierdie vergelyking word alle trekkers, van nuwes tot dié wat 20 jaar oud is, in aanmerking geneem.
Volgens dr. Rankin het die grootte van die trekkervloot van 203 852 eenhede in 1984 tot 63 168 in 2003 gedaal. Verlede jaar was dié getal 63 171, of sowat 'n derde van dié in 1984.
In 1989 (15 jaar gelede) was daar sowat 161 400 trekkers in Suid-Afrika. Die huidige trekkervloot is sowat 61 % kleiner as in 1989.
Tans is sowat 39 000 trekkers in gebruik wat jonger as tien jaar is. Dit is 'n skrale 5 % minder as die 41 000 trekkers wat in 1994 in die vloot was, maar 55 % minder as die 86 400 trekkers van 15 jaar gelede. Volgens dr. Rankin is verlede jaar se aantal trekkers wat jongers as tien jaar oud is, 'n verblydende 9,6 % meer as die laagtepunt van 35 600 trekkers in 2001.
Volgens dr. Rankin is dit verblydend dat die getal trekkers in die kategorie jonger as 10 jaar sedert 1993 bemoedigend gegroei het. Dit verteenwoordig nou sowat 62 % van die vloot. In 1993 was dit 35,8 %.
Die ouderdom van die getal trekkers wat minder as vyf jaar oud is, het die afgelope tyd ook toegeneem en dit is op die oomblik die grootste proporsionele deel (30,5 %) van die trekkerpark sedert 1994.
14 Februarie 2005