Krippe wat vinnig leeg gesuip word deur vee, in die besonder beeste, het die redenering om 'n goedkoop-balklep te ontwerp na 'n berg laat lyk, aangesien die beskikbare vlotterkleppe net te duur was vir 'n klein boer wat aan die gang probeer kom.
Goedkoop, met die klem op betroubaarheid, wat langtermyn as hoofdoelwit het, was nog altyd vir my belangrik en het ek daarom begin soek na 'n vlotterklep wat vinnig water voorsien en nie 'n té groot spasie in die krip opneem nie. Ek het baie stadige toevoer van bykans 2 km na van my krippe en het daarom 'n reservoir by krippe opgesit en 'n vinnig-lewerende balklep gesoek. My idee was ook dat die beeste hom nie maklik moet kan breek nie. Met dit in gedagte het ek die koöperasierakke begin deursnuffel met baie idees in my kop.
Eerstens het ek na die norm gaan kyk, dit, het ek besef, is te duur vir my. Daar en dan het ek besluit dat ek tegnies angelê is, en wel my eie klep aanmekaar kan slaan. Ek het immers al baie idees voorheen laat werk.
Die aanvanklike idee was om plastiese koppelings te gebruik as gevolg van die prys en moontlike diefstal van koper, maar aan gebrek van korrekte plastiese koppelings, moes ek maar die koper vat.
By die rak met eenrigtingkleppe het ek onmiddelik die idee gekry en die klep asook die bal en sy steel gekoop nadat die plan in my kop opgeteken is. Die res was eintlik maar bietjie "common sense" aanmekaargesit en heelwat gebuig tot en met die korrekte posisie gevind is, en daar werk dit!
Ek het by navraag op die landbou-gespreksforum, hierdie patent bekend gestel en net 3 dae later die volgende reaksie gekry:
Chris, Ek was die naweek op die plaas om my waterprobleem te probeer uitsorteer! Jou patent werk wraggies baie-baie goed! Buiten vir die feit dat dit maklik is om te "bou" kos dit ook amper niks. Ek het Vrydag vir my 'n "ready-made" ballvalve gekoop vir 700-en-iets rand. Ek het seker nie langer as 15 minute aan jou patent gebou nie en dit het my sekerlik onder die R200 gekos - arm, 4 moertjies, klep en ball ingesluit.
Vir die spesifieke doeleindes wat ek hierdie naweek gehad het - iets wat my krip so gou moontlik sal vol maak - het jou patent die ander ballvalve stof in die oë geskop - ek het altwee getoets! En dis redelik wetenskaplik getoets, nogal - met 'n kannetjie in die een hand en 'n stophorlosie in die ander.
Regtig 'n puik idee en ja, ek sou dink jy kan hom inskryf vir die boerepatent-storie! 'n Moontlike verbetering op die patent sal dalk wees om 'n stukkie rubber of vel of iets om die ronde valklep vas te maak sodat mens seker is hy seël mooi dig? Ek het dit nie probeer nie, maar het die idee gekry dat hy nie 100% dig seel nie.
Dankie weer eens vir die idee!
Andre.
- Geskryf deur Chris Volschenk, e-pos: (chris45@telkomsa.net)
3 Desember 2008