
’n Trekkertjie wat jou pa gebou het en waarop jy windmaker op die werf rondry, is seker een van die grootste vreugdes wat ’n plaaskind te beurt kan val. Daar is net een ding wat beter is: As jy 70 jaar later weer die kans kry om op jou kinderspeelding te ry.
Toe mnr. Innes Smit (76) van die plaas Ongegund naby Malmesbury ses jaar oud geword het, het sy pa, Gielie, vir hom eiehandig ’n regte trekkertjie gebou waarmee hy kon ploeg, skraap en speel, vertel Smit se dogter, me. Letitia Watson. “Dit was in 1951 en oupa Gielie is vier jaar later oorlede toe my pa 10 was.”
Letitia vertel dat sy as laerskoolkind laas op die trekkertjie gery het en dat dit maar altyd op die plaas gestaan het. Vanjaar het haar man, mnr. Charl Watson, egter stilletjies met Italian Tractors op Malmesbury gereël om die trekkertjie weer tot sy volle glorie te herstel. “Die wonderlike restoureerder was mnr. Frikkie Marais en hulle het soveel moeite gedoen,” vertel sy. “Die oorspronklike items soos sy Studebaker-stuurwiel, Wisconsin-enjin, Lincoln-onderstel en -masjinerie is behou; hy is weer die oorspronklike geweermetaal-grys-kleur geverf en sy wiele ’n Massey Ferguson-rooi.”
Die klein speelgoedtrekker het soos ’n wafferse meneer tussen die groot trekkers op die vertoonvloer gestaan totdat Marais dit op die plaas kom aflaai het. “My pa was heeltemal oorstelp en skoon bewoë van opgewondenheid,” vertel Letitia.
Dit was egter nie lank nie, toe klim hy weer op die trekkertjie. “Jy kon maar 70 jaar terugspoel. Hy was weer ses jaar oud en het weer op die werf rondgejaag soos destyds.”
Intussen het oupa Innes se kleindogter, Karoline Watson, ’n oulike video gemaak wat beeldmateriaal bevat van haar oupa wat as klein witkopseuntjie in die 1950’s op sy trekker ry, tesame met die video wat hulle verlede week gemaak het toe hy as 76-jarige weer daarop gery het.
Letitia het dit op Facebook geplaas, waarop familie en vriende hul herinneringe aan die trekkertjie uit die 1950’s gegee het: “Die inskrywing neem my nou jare terug. Dit was ’n Sondag, ek dink dit was voor ek nog in die skool was. Ek was opgedress in ’n wit nylonrok met valle getooi. Die jongklomp het op Paardefontein se werf probeer esse kap met die trekkertjie. Ons kleintjies kon agter die sitplek staan en saamry. Die power take-off was oop en het gedraai. Dis toe dat dit my nylonrok vasgryp en van my lyf af draai. My ma het lank die rok in die linnekas gehou as ’n les,” skryf Innes se niggie, me. Henriette Louw.
Waarop sy suster, me. Jeanne Nel antwoord: “Ek het in die waentjie gery toe draai my full flare-romp in die wiel vas. Toe word dit net ’n half flare-romp. Die trekker was swaar op klere.”