Hy het agtergekom graanboere het ’n behoefte aan ’n klein, ligte onkruidspuit wat agter enige voertuig – selfs ’n vierwielmotorfiets – gesleep kan word om onkruid langs en op die punte van graanlande te bespuit.
Só vertel mnr. Johann Swart (27) van die plaas Goedeverwachting by Napier wat onlangs in Landbouweekblad en Omnia se boereplanne-kompetisie op Nampo Kaap op Bredasdorp sy Weedmaster Quad-onkruidspuitwaentjie vertoon het.
“Die behoefte aan so ’n onkruidspuitwa is veral groot wanneer onkruidbespuiting in nat toestande gedoen moet word wanneer moeilik met ’n groter en swaarder onkruidspuit agter ’n trekker in die land ingekom kan word.”