Die verspreider van Massey Ferguson-werktuie in Suid-Afrika, Barloworld Equipment Agriculture, het die kroon gespan op sy suksesvolste jaar ooit toe hy pas in Amerika as een van Agco se topverspreiders vir 2004 aangewys is.
Die toekenning vir die topvolumehandelaar is aan dié onderneming gegee nadat hy en sy plaaslike handelaars se trekkerverkope oor die afgelope drie jaar verdubbel het en byna 2 000 eenhede in 2004 verkoop is.
Mnr. Godfried Heydenrych, bedryfsbestuurder van die onderneming, het die toekenning in Florida, Amerika, ontvang. Die Agco-korporasie het wêreldwyd 9 200 handelaars en verspreiders en die Suid-Afrikaanse onderneming was een van net drie wat uit ontwikkelende lande genooi is.
Heydenrych skryf die onderneming se welslae aan verskeie redes toe, soos groter prysmededingendheid en die feit dat die onderneming die omvattendste trekkerreeks ooit aan die plaaslike boer kan bied. Daarby het die onderneming se handelaarsnetwerk 'n deurslaggewende rol gespeel.
Mnr. Godfried Heydenrych, middel, met die toekenning wat hy namens Barloworld Equipment Agriculture in Amerika ontvang het. Links is mnr. Martin Richenhagen, voorsitter en hoofbestuurder van Agco en regs is mnr. Bob Ratliff, voorsitter van die direksie van die Agco-korporasie.
3 Junie 2005