Trekkerverkope vir Januarie in die Suid-Afrikaanse mark, sonder uitvoerverkope was 433 eenhede.
Dit is byna 10% hoër as die 394 eenhede wat verlede Januarie verkoop is. Stroperverkope vir die maand is 30% hoër as verkope vir Januarie verlede jaar. Vergeleke met Januarie verlede jaar het balerverkope skerp gestyg.
Mnr. Charles Van Niekerk, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie, sê die bemoedigende aanvanklike verkope vir die jaar weerspieël die gunstige faktore wat nou die mark beïnvloed, eerder as die negatiewe faktore, soos die implementering van die Nasionale Kredietwet en die rentekoersverhogings, wat die mark teen die einde van verlede jaar nadelig beïnvloed het.
"Die koringoes was goed en die vooruitsigte vir somergewasse lyk ook goed. Oespryse hou goed. "
Hy sê vooruitsigte vir die eerste kwartaal van die jaar lyk goed. Boere sal "belastingaankope" doen en sal vroeër besluite neem oor nuwe aankope voordat die onafwendbare prysverhogings, wat behoort te volg op die onlangse waardevermindering van die rand, aangekondig word.
7 Februarie 2008