
Die trekkerbedryf skat dat sowat 7 500 nuwe trekkers in 2014 van die hand gesit sal word, sê dr. Jim Rankin, hoofbestuurder van die SA Landbou-masjinerie-assosiasie (SALMA).
Die verkope van nuwe trekkers word geraak deur die afname in aanplanting van somer- en wintergraan, asook deur die feit dat trekkers met hoër drywing aangeskaf word.
Vóór 1981 was verkoopsyfers van 15 000 nuwe trekkers per jaar eerder die norm as die uitsondering, maar dié inligting is tans grootliks irrelevant, want dit is onwaarskynlik dat daardie verkoopsyfers wéér in Suid-Afrika gesien sal word.
Juis daarom, reken Rankin, is dit meer sinvol om na die verkoopsyfers van die afgelope twee dekades (1994 tot 2013) te kyk en te besin oor die bewegende gemiddelde verkope oor vyf jaar.
Nie uitgevoerde trekkers nie
Jaarlikse verkope van nuwe trekkers oor die afgelope 20 jaar het gewissel van die laagste verkope van 2 624 eenhede in 1999 tot die hoogste verkope van 7 899 eenhede in 2012. (Hierdie syfers sluit nie nuwe trekkers in wat vanaf Suid-Afrika uitgevoer is nie.)
Die bewegende gemiddelde verkope oor vyf jaar het gedaal tot minder as 5 000 eenhede in 1990 en het in 'n nou band beweeg tussen sowat 3 300 eenhede (in 1994, 2002 en 2003) en 5 000 eenhede (in 1998 en 2007) om bokant die 5 000-merk uit te styg in 2008. Tans staan hierdie bewegende gemiddelde verkope op 6 700 eenhede wat basies dieselfde is as die 6 707 eenhede wat verlede jaar (2013) van die hand gesit is. Met die uitsondering van verlede jaar, het die bewegende gemiddelde verkope sedert 2002 stadig gestyg.
Die verkope van 7 552 eenhede in 2008 was uitsonderlik en dit het afgeplat tot 5 550 eenhede in 2009 en 5 155 eenhede in 2010. Die verkope van 7 379 eenhede in 2011, 7 899 eenhede in 2012 en 7 516 eenhede in 2013 word weereens as uitsonderlik beskou.
Verkoopsyers oor vyf jaar
Rankin sê as 'n mens die afgelope vyf jaar se verkoopsyfers onder die vergrootglas plaas, kom etlike interessanthede te voorskyn:
* Die meeste nuwe trekkers word in Oktober van die hand gesit.
* In Februarie, die laaste maand van die belastingjaar, word merkbaar méér nuwe trekkers verkoop.
* Augustus, September en Oktober is die drie maande tydperk waarin die meeste trekkers verkoop word, naamlik 29,6% van die totale verkope.
* Die meeste trekkers word in die eerste kwartaal van die hand gesit, naamlik 27% van die totale verkope.
* Die tweede kwartaal verteenwoordig die laagste kwartaal-verkope, naamlik 22% van die totale jaarlikse verkope.
* Die laagste maandelikse verkope word in April, Mei en Desember ervaar.