Die twintigste uitgawe van die tweetalige Meganisasiegids deur Koos le Roux het pas die lig gesien, en 'n gelukkige leser kan 'n eksemplaar wen.
Dié uitgawe van die tweetalige Meganisasiegids kom 'n lang pad, nes die skrywer, die bekende landbou-ingenieur, mnr. Koos le Roux van Pretoria.
Dié gids van 165 bladsye behoort vir enige saaiboer goud werd te wees, maar veral vir diegene wat ernstig somme maak oor die koste van bewerkings. Tabelle met die al dié inligting is byderhand, asook 'n legio syfers en koste wat met elke denkbare bewerking te doen het.
Dié nuttige gids is só saamgestel dat die verskillende trekker-implement kombinasies se koste afsonderlik en gesamentlik van die tabelle afgelees kan word in rand per uur of rand per hektaar. Op een bladsy word die koste in rand/uur verskaf en op die volgende is die koste in rand/ha te sien.
Vir elke trekker-implement kombinasie word die brandstofverbruik in liter per uur of liter per hekataar aangedui. In 'n volgende tabel word die brandstofverbruik in rand per uur of rand per hektaar aangedui. Verder word die werktempo van die trekker-implement kombinasie gegee in hektaar per dag of ton per dag, of km per dag.
Voorbeelde van hoe om 'n meganisasiebeplanning aan te pak en ook om 'n kostevergelyking op te stel, word vir die gebruiker ingesluit. Die boek is dus 'n uiters nuttige hulpmiddel in die hande van die boer om die koste van meganisasie te bereken.
Die Meganisasiegids 2009 kos 'n skamele R180 en kan bestel word by Koos le Roux, tel. 082 828 9531.
9 April 2009