Die 2006-uitgawe van die Meganisasiegids is pas deur die skrywer, mnr. Koos le Roux van Pretoria, uitgereik. Dit is die sewentiende keer dat dié nuttige gids verskyn.
Le Roux, 'n bekende landbou-ingenieur, het die gids só opgestel dat die verskillende trekker-kombinasies se koste afsonderlik en gesamentlik van die tabelle afgelees kan word in rand per uur of rand per hektaar. Op een bladsy word die koste in rand per uur verskaf en op die teenoorstaande bladsy word die koste in rand per hektaar verskaf.
Vir elke trekker-implement kombinasie word die brandstofverbruik in liter per uur of liter per hektaar aangetoon. In 'n volgende tabel word die verbruik in rand per uur of rand per hektaar aangedui. Verder word die werktempo van die trekker-implement kombinasie in hektaar per dag of ton per dag of km per dag gegee.
Die gids bied ook voorbeelde van hoe om 'n meganisasiebeplanning aan te pak en ook om 'n kostevergelyking op te stel. Die gids is 'n nuttige hulpmiddel in die hande van die boer om die koste van megasnisasie te bereken.
Volgens Le Roux word die gids baie wyd gebruik: van Windhoek tot in Kamatipoort en Mosambiek, sover noord as Zambië en suid tot in Wellington, Swellendam en George.
Die koste van dié nuttige gids is R140 en kan van die opsteller bestel word. Sy nommer is 082 828 9531.
5 Mei 2006