
Dit pla hom nog al die jare dat ’n spilpunt se bande so in die son loop en verbrand, sê mnr. Ampie Venter, bekende planmaker van Orania. “Die loopvlak makeer nog niks, dan is die bande reeds vol barste van die son en water.
“Wat in werklikheid gebeur, is dat die loopvlak barsies vorm waarin die spuite water forseer. Dit verswak die res van die band totdat dit naderhand nie meer die vrag kan dra nie, en dan bars dit.
“Miljoene rande se bande wat in die Afrika-son verbrand het, moet jaarliks vervang word, sê Venter.
Hy en mnr. Piet Potgieter, ’n mede-Oraniër en afgetrede ingenieur, het saam ’n plan beraam en ’n spesiale trapwiel vir spilpunte ontwerp.
Bakkies in wielvorm
Die trapwiel bestaan uit twaalf bakkies in wielvorm. Die bakkies loop plat op die grond, soos die kettings van ’n kruiptrekker, sodat geen voor vorm nie.
Die uitwerking is dus anders as met ’n gewone rubber-band, wat die grond na buite druk en sodoende ’n diep voor vorm en verspoeling in die hand werk op lande wat baie skuins is.
’n Groot voordeel van die trapwiel is dat dit nooit pap word of bars nie, sê Venter. Die wiel is só ontwerp dat dit op die naaf van enige model of fabrikaat spilpunt pas.
Twee helftes
Die wiel se twee helftes word om die naaf vasgebout sodat die boer nie die naaf hoef te vervang of weg te gooi nie.
Die trapwiel verhoed ook die skade wat ’n boer kan ly as ’n band in die nag bars en die spilpunt dan van koers af loop of omslaan.
Venter sê om die prototipe-trapwiel te maak, was goedkoper as ’n rubberband. Omdat die wiel so stadig beweeg, kan aluminium of vlekvrye staal ook gebruik word, wat dit baie lig en duursaam sal maak.
Navrae: Mnr. Ampie Venter, sel 082 822 6849; e-pos: ampieventer@gmail.com