Toe die boere mnre. Christof Brits en Andrew Fyvie van Bergville nie op die rak kry wat hulle soek nie, het hulle by die regte span om hulp aangeklop om ’n planter te kry wat die helfte vinniger kan plant – en boonop akkurater.
Dit het twee jaar geduur vandat hulle by die vervaardiger Rovic Leers gaan aanklop het om hulp vir ’n nuwe soort planter tot die eerste werkbare model op hul plase begin plant het.
Christof en Andrew plant hul sojabone en mielies in rye 45 cm uit mekaar, heeltemal ongehoord vir konvensionele boere wat gewoond is aan die meer tradisionele 76 cm en outydse drievoet (91 cm)-rye. Die nouer rywydte is beter vir onkruiddruk en lewer ook ’n beduidende bydrae tot grondvogbewaring, en boonop is tussenry-mededinging tussen die aangeplante gewasse minder.