'n Egalige en goeie stand lusern is vir 'n boer belangrik. Met sy eie tuisgemaakte saaier doen 'n boer van Grootdrink in die Noord-Kaap net so goed as wat 'n duur fynsaadplanter sou vaar.
Mnr. Hannes van der Westhuizen van perseel 209 in die Gariep-besproeiingskema, tussen Groblershoop en Upington, sê 'n planter vir fyn saad kos sowat R80 000. Vir 'n boer wat op klein skaal saai, is dit peperduur. In sy omgewing boer die meeste boere op sowat 30 ha en dit maak die gebruik van so 'n planter onekonomies.
'n Handmodel-saaier wat met 'n slinger werk, is onakkuraat omdat die stapspoed en slingerspoed die saaidigtheid beïnvloed. Die variasie in dié planters laat die boer 'n verlies ly aan opbrengs weens te swak stand of vermorsing van saad as te veel gesaai word.
Kontrakteurs is wel beskikbaar, maar planttyd is net in beperkte tye wanneer water beskikbaar is. Die kanaal loop in planttyd drie weke en staan daarna weer twee weke lank. In daardie tye is die kontrakteurs vol bespreek.
Al hierdie faktore het hom laat besluit om sy eie saaier vir fyn saad te bou. Dit is van afvalyster en word aangedryf deur 'n ruitveër-motor. Dit word op 'n vierwielmotorfiets gemonteer.
Die klein sluisie en skakelaar aan die saaier kan maklik deur die motorfietsryer beheer word. Die sluisie word maklik verstel omdie regte hoeveelheid saad per hektaar te saai.Dit kan net so maklik op 'n trekker gemonteer word.
Vir sy saaier is net materiaal gebruik wat beskikbaar was. Die saadbak is van afvalplate en kort stukkies vierkant yster gemaak. Die saaiskyf word deur die ou ruitveërmotor aangedryf. Die saadbak kan sowat 10 kg saad hou. Hy saai teen 25 kg/ha.
Met sy saaier is hy nou nie meer van kontrakteurs afhanklik nie. Sy masjien se slingerspoed kan ook nie uit wees nie. Hy saai teen 'n konstante tempo. Die motor wat teen 'n konstante spoed loop, bring mee dat die saaitempo egalig is en 'n goeie stand verseker.
Van der Westhuizen sê met die saaier brei hy die take uit wat met die motorfiets gedoen kanword. Diemotorfiets pas onder meer maklik in rye en vergemaklik waterlei. Hy ry teen sowat 4 km/h wanneer hy saai en gebruik minder as 500 ml brandstof per hektaar.
Hy het vir homself al lusern op sowat 10ha gesaai en nog 30ha by vier ander boere met uitstekende resultate. Almal is tevrede met die saadverspreiding en stand. Hy kan meer as 10ha per dag saai. Die enigste ander bewerking wat nodig is, is dat die saad met 'n roller toegerolmoet word.
Landbouweekblad, 2 November 2007