Die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie is nie 'n waghond nie. Dit is eerder 'n organisasie wat die landbou dien deur verbeterde kommunikasie en die beskikbaarheid van tersaaklike inligting oor die belangrikste ontwikkelinge op die gebied van landbou-masjinerie en -toerusting.
Die swaelinhoud van dieselbrandstof, wat onder meer sekere smeringseienskappe daaraan verleen, maar wat ook vir uitlaatgasbesoedeling verantwoordelik is, word vanaf Januarie aanstaande jaar afwaarts aangepas. Dan sal diesel met 'n swaelinhoud van 0,30 % nie meer beskikbaar wees nie.
Só sê dr. Jim Rankin, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Salma), wat al vir meer as twee dekades aan die woeker is.
"Die norm sal 'n swaelinhoud van 0,05 % wees, terwyl diesel met 'n swaelinhoud van slegs 0,005 % ook beskikbaar sal wees. Met ons betrokkenheid, wat net 'n fraksie van die algehele ontwikkeling is, help ons toesien dat die verbeterde produk teen die regte gehalte beskikbaar sal wees."
Verder is dit vir die boer 'n groot gerusstelling dat die meeste invoerders van landboumasjinerie en -toerusting en die meeste plaaslike vervaardigers en verspreiders van sulke toerusting lede van Salma is.
Hoewel dit op sigself geen waarborg bied aan diegene wat die produkte van Salma-lede gebruik en koop nie, plaas geakkrediteerde lidmaatskap 'n groot verantwoordelikheid op ondernemings om toe te sien dat hulle aan sekere van die organisasie se norme, standaarde en behoeftes voldoen.
Deur die bindende aksie van lidmaatskap beywer die vereniging hom onder meer om die beskikbaarheid van landboutoerusting en ondersteunende dienste in belang van sy lede en die plaaslike landbou te bevorder, sê die voorsitter, mnr. Nick Sanders.
Dit word bereik deur die bevordering van kommunikasie tussen die invoerders, vervaardigers en verspreiders van nuwe landboutoerusting. Verder stel Salma verkoopstatistiek en tegnologiese inligting beskikbaar asook inligting oor ontwikkelinge wat in die belang van sy lede en boere is.
Verder monitor hy selfs aangeleenthede, soos die gehalte van dieselbrandstof, met die samewerking van ander instansies, soos die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS). Sodoende kan die standaarde daarvan voortdurend gehandhaaf en selfs verbeter word.
Trekkers word deesdae met moderne en tegnologies hoogs ontwikkelde enjins toegerus en die beskikbaarheid van plaaslike dieselbrandstof wat aan die nodige vereistes en behoeftes voldoen, is deurslaggewend. Minderwaardige brandstof wat skade kan veroorsaak, kan meebring dat enjinwaarborge onder meer in gedrang kan kom, sê Sanders.
Minderwaardige dieselbrandstof, soos diesel en paraffienmengsels wat steeds voorkom, bly 'n lastige probleem. Omdat dit groot skade kan veroorsaak moet boere daarop bedag wees om dit nie te gebruik nie.
Salma onderskryf die gepaste hoë standaarde, veral ten opsige van die veiligheid van trekkers, waaraan voldoen moet word, aldus Sanders. Geakkrediteerde lede van Salma is vervolgens finansieel bestendig en het 'n geskiedenis van voorraadhouding, beskikbaarheid van onderdele en dienslewering wat aan goeie standaarde voldoen. Sulke ondernemings is trots op hul akkreditasie. Landbouers behoort daarvan kennis te neem dat dié ondernemings 'n groot mate van gerusstelling bied en die landbou se welstand op die hart dra.
Waar ernstige probleme of tekortkominge voorkom, help Salma om dit op te los.
Salma se verdere funksies sluit in dat hy met verskillende werksgroepe (onder meer SA Graan se insetkomitee) skakel wanneer die koste-aspekte van sy lede bestudeer word. Dit behels ook ondersoeke na die beskikbaarheid van genoeg opgeleide tegnici, wat in staat moet wees om nuwe tegnologie in die landbou te kan aanwend, sê Sanders.
Deurdat beskikbare inligting oor verkoops- en bemarkingsneigings deurlopend aan al sy lede voorsien word, het hulle die geleentheid om 'n balans te kan hou tussen die voorraadvlakke van toerusting en die vraag daarna. Dit sorg vir gestroomlynde sakebesluite en -beplanning tot voordeel van sy lede en die land se verskillende landboubedrywe.
15 Julie 2005