Toegerus met 'n paar gevorderde elektroniese toestelle kies dié trekker koers oor die land en loop reguit op 'n onsigbare elektroniese spoor sonder dat die operateur sy hande op die stuurwiel het. Dit is, sover bekend, Suid-Afrika se eerste selfstuurtrekker.
'n Groot groep boere het die ding staan en betrag, half ongelowig. Toe vra een: "Ek wonner wat gaan hy maak as hy by 'n hek kom?"
Maar, verduidelik mnr. Craig Lipawsky, tegnologiebestuurder van Optron, die onderneming wat die Trimble-outomatiese stuurstelsel verskaf, dié stelsel gee die operateur kans om ál sy aandag aan ander funksies van die trekker en werktuig te bestee vir optimale grondbewerking terwyl die trekker self sy koers oor die land hou.
Trouens, die operateur sit op 'n "warm" sitplek as hy opstaan, gaan staan die trekker, as hy aan die slaap raak, maak 'n gonser hom wakker en as hy te vas slaap, loop die trekker in die rondte of gaan staan.
Dit alles saam maak dat die operateur gemiddeld 40 % doeltreffender werk, aansienlik meer grond per dag bewerk kan word en presisiebewerking kinderspeletjies raak, sê die vervaardiger van die stelsel.
Die stelsel wat bekend gestel is, is op 'n Case MX 285 aangebring en 'n satellietnavigasiestelsel (GPS) word gebruik om 'n akkurate "elektroniese streep" oor die land te trek.
Elektroniese seine vanaf satelliete wat die trekker se posisie vyf keer per sekonde bepaal, word omgeskakel om die sensors te aktiveer wat die kleppe van 'n hidrouliese stelsel wat aan die stuurmeganisme van die trekker gekoppel is, te beheer sodat die trekker gestuur word.
Om dit te laat werk, is 'n ontvangstoestel op die trekker gemonteer wat sy eie vier tot vyf satelliete (daar is 14 in die ruimte om die aarde wat gebruik kan word) uitsoek. Met dié toestel word die eerste reguit lyn oor die land in die elektroniese geheue van die stelsel op die trekker, die AgGPS Navigasiebeheerder, vasgelê. Dié trekker se posisie word vyf keer per sekonde nagegaan.
Langs die land of op 'n nabygeleë toring of silo word 'n basisstasie opgerig waaraan 'n radio gekoppel is. Op die trekker is 'n ontvangstelsel wat die radioseine van die basisstasie opvang.
Elke sekonde stuur die basisstasie 'n korreksie (indien nodig) na die ontvangstoestel op die trekker. Só word die afwyking van die trekker van die reguit lyn tot 100 mm na enige kant beperk.
As die basisstasie op grondvlak opgerig is, kan die trekker oor afstande van sowat vyf kilometer gestuur word en as dit op 'n toring of silo opgerig is, aansienlik verder.
Om die eerste lyn van die een kant van die land na die ander vas te lê, ry die operateur met die trekker oor die land, soos wanneer gewoonweg aangevoor word. Met die stelsel aangeskakel, word die lyn outomaties geregistreer en uiteindelik deur die GPS reguit getrek.
Daarna word die werkwydte van die implement wat gebruik word, ingesleutel en elke volgende lyn word outomaties in verhouding tot die oorspronklike lyn bepaal sodat die werkbane presies ewewydig langs mekaar pas.
Aan die einde van die land draai die operateur die trekker om en met die hulp van 'n ligbalk, waarop die posisie van die trekker ten opsigte van die werklyn presies aangedui word, draai hy die trekker se neus om weer koers te vat oor die land sonder dat die operateur die stuurwiel verder hoef vas te hou.
Die ligbalk word op 'n gerieflike plek aangebring en daarop word in breukdele van 'n meter gewys hoe ver die trekker van die werklyn af is en na watter kant toe die operateur moet draai om daar uit te kom.
Mnr. Lipawsky sê die stelsel verhoog produktiwiteit omdat elke werkbaan presies langs die ander pas. Geen banke word oorgeslaan of bewerkings oor mekaar gedoen nie. Dit verminder die getal bewerkings en minder tyd word op die land bestee. Elke bewerking kan dus presies op dieselfde plek gedoen word. As die grond diep losgewerk word, kan reg op daardie voor geplant word en later kan skoffelbewerkings en topbemesting ook op presies die regte plek gedoen word sonder dat die operateur die trekker stuur.
Dié voordeel strek verder deurdat die bewerkings die volgende seisoen ook weer op presies dieselfde plek gedoen kan word vir die optimale benutting van vog en bemesting.
Daarby sorg die stelsel vir groter veiligheid deurdat die operateur minder uitgeput raak, aan minder spanning onderwerp word en hy beter kan konsentreer om sy werk goed te doen.
Die stelsel kan van een trekker na ander trekkers en werktuie oorgeplaas word sodat bewerkings wat met ligter trekkers of selfaangedrewe werktuie gedoen word, ook op dieselfde bane kan geskied.
Daarby kan data met dié stelsel ingewin word om 'n stelsel van presisieboerdery te bedryf.
Die eenheid kos sowat R410 000.
14 November 2003