Plaasmense word dikwels by plaashekke aangeval wanneer hulle uitklim om dit oop te maak. Daarom het 'n Pretoriase onderneming 'n sonkragstelsel ontwerp om hekke op afgeleë dele van die plaas met afstandbeheer oop te maak.
Die baie plaasaanvalle het hom geprikkel om ondersoek in te stel na die gebruik van sonpanele saam met kraghekke. Hy het bevind dat 'n paneel van 16 W (0,97 A) die beste sal werk, sê mnr. Alfred White van Alro Sonkrag.
Hy gebruik dit saam met 'n Centurion-hekmotor, want dit maak die hek vinnig oop en toe.
Die krag word in 'n 12 V-battery (7 A) opgegaar. 'n Droëselbattery van 17 A is deel van die stelsel. Dié twee batterye saam verseker dat die hek minstens twintig keer per dag vir agt dae ná mekaar kan oop- en toemaak wanneer die son nie skyn nie en die batterye dus nie herlaai word nie.
Die batterye is in 'n staalkissie (die plaat is 1,6 mm dik). Dit kan gesluit word.
Die sonpaneel word teen die regte hoek op 'n paal van 3 m hoog gemonteer.
Dieselfde stelsel (sonder die hekmotor) kan gebruik word om heinings te elektrifiseer.
As dit saam met 'n omsetter gebruik word, lewer dit genoeg krag vir ligte (220 volt) en 'n TV-stel in 'n werkershuis.
'n Wye reeks geskikte hekmotors is beskikbaar. Hulle kos R5 500 tot R8 800, na gelang van die grootte en gewig van die hek. Die sonpaneel kos R450, die bykomende battery R285 en die toesluitkas, paal en drade R2 200. Dié pryse sluit nie BTW in nie.
21 Januarie 2005