Bykans vier keer meer stropers is in Maart vanjaar verkoop teenoor dieselfde tyd verlede jaar. In dieselfde tyd het trekkerverkope met 52,7% en balerverkope met 57,7% gestyg.
Die goeie verkope van landbouwerktuie is volgens mnr. Charles van Niekerk, voorsitter van die SA Landboumasjinerieassosiasie, toe te skryf aan die verwagte goeie oes en hoë graanpryse sowel as die dreigende verhogings in die pryse van die werktuie weens die swakker ruilwaarde van die rand.
In Maart is 35 stropers verkoop teenoor die nege in Maart verlede jaar wat 'n styging van 288,9% verteenwoordig, 617 trekker is van die hand gesit teenoor 404 en 41 balers teenoor die 26 van Maart 2007.
In die eerste drie maande vanjaar is 1 802 trekkers teenoor 1 192; 62 stropers teenoor 29 en 213 balers teenoor 108 verkoop in vergelyking met die eerste kwartaal verlede jaar. Dit verteenwoordig stygings van 51,2%, 113,8% en 97,2% onderskeidelik.
Van Niekerk sê die vooruitsigte vir April lyk belowend, want die vraag is nog sterk. Hy is egter oortuig dat die hoër pryse wat begin posvat 'n negatiewe uitwerking op die mark sal hê, al is dit net tydelik.
Indien gunstige weerstoestande voortduur en die graanpryse op die huidige vlakke bly, lyk die vooruitsig vir die res van die jaar ook belowend.
8 April 2008