'n Unieke nuwe ploeg die eerste ter wêreld met snylemme wat grond tussen wingerdrye tot 'n meter diep kan binnedring om die wortelstelsel te snoei vir nuwe wortelgroei en beter opname van voeding, is bekend gestel. Ou wingerde se produksie kan só met 30 % en meer verhoog word.
Dit is normaal dat wingerd wat betreklik oud is, se produksie opmerklik begin daal sonder dat 'n voor die hand liggende siekte of rede daarvoor verantwoordelik is. In die meeste gevalle is dit weens ongunstige grondtoestande, soos verdigting, gelaagdheid, te min fosfate en hoë grondsuurheid. Sulke wingerde word gewoonlik vervang.
Dit is egter baie duur en kan 'n boer tot R80 000/ha uit die sak jaag oor 'n tydperk van twee jaar as aspekte soos besproeiing en die vestiging van opleistelsels in berekening gebring word.
'n Unieke nuwe masjien of ploeg is ontwerp wat saam met 'n presisieboerderystelsel gebruik kan word om die produksie van 'n bestaande wingerd of boord dramaties te verhoog teen 'n fraksie van die koste van die uithaal en hervestiging van 'n nuwe wingerd of boord.
Mnr. Koos Stofberg, die man wat die presisieboerderystelsel en die SM18/1-vierwielaangedrewe ploeg ontwikkel het en ook besturende direkteur van die maatskappy Soilmix Africa op Stellenbosch is, sê die Soilmix-stelsel, met die ploeg as kern, is daarop gerig om die grondopbrengspotensiaal van hoëwaarde-oeste soos wyn en tafeldruiwe, appels, pere en sitrus te verhoog.
Dit kan in bestaande wingerde en boorde gebruik word, wat die praktyk om 'n hele wingerdblok uit te haal en te hervestig, onnodig maak tensy van kultivar verander moet word, of as daar 'n siektetoestand in die bestaande blok is.
'n Nuwe blok wingerd kan soms langer as sewe jaar neem om dividende te lewer, en dit is waarom die ontwikkeling van die nuwe ploeg en stelsel, wat 'n wêreld-eerste vir Suid-Afrika is, so uitsonderlik is.
In situasies waar die grond se gehalte deur uitputting en verdigting sy tol geëis het, het die Soilmix-stelsel in proewe bewys dat dit nuwe lewe in bestaande wingerde blaas om opbrengste met minstens 30 % te verhoog. Dit vernuwe die wingerde deurdat die wortels gesnoei word. Hul vermoë om vog en voeding te absorbeer, verbeter omdat talle nuwe wortels uit die snoeiwond ontwikkel.
Prof. Eben Archer, bekende wingerdboukenner en produksiebestuurder van Lusan Premium Wines op Stellenbosch, sê wortelstudies toon dat die masjien se werking ook die samestelling van die wortelstelsel verander deurdat meer fyner wortels ná die wortelsnoeiery ontwikkel. Omdat wortelpunte belangrike organe vir hormoonproduksie is, werk dit op die hormoonbalanse in die wingerdstok in.
Hormone is belangrike verbindings wat die fisiologie van rypwording beheer en so ook die gehalte van die druiwe. Heelwat navorsing is egter nog nodig om hierdie uitwerking van die masjien volledig te bepaal, meen hy.
Hoe werk die stelsel, waarvan die ploeg deel uitmaak?
Stofberg sê dit behels eerstens die kartering van 'n betrokke gebied. Grondmonsters word geneem en alle data en besonderhede van die gevolglike grondvoorbereiding word opgeberg om die boerderybedrywighede daarop aan te teken en só mettertyd 'n databasis op te stel.
'n Apparaat waarmee grondmonsters tot op 'n diepte van 1,2 m onttrek en die monster in die oorspronklike toestand bewaar kan word, is ook ontwikkel. Die monsters word in 'n deursigtige buis verpak vir visuele en chemiese ontleding deur grondwetenskaplikes.
Hierna word grondklassifikasies op die monsters gedoen. Verskeie dele van die monster kan vir chemiese evaluering gemeng word. Enige gelaagdheid in die grond kan geïdentifiseer word. Die inligting oor makro- en mikro-voedingsvlakke en die pH en katioonruilingsvermoë word aangeteken voor die meganiese voorbereiding deur die Soilmix-masjien.
Hy sê die sukses van die stelsel hang daarvan af dat bepaalde doelwitte vir die wingerdblok gedefinieer word. 'n Permanente styging in opbrengs kan net behaal word as die aantal doeltreffende lote per wingerdstok verhoog word. Die handhawing van opbrengs en gehalte kan behaal word deur genoeg doeltreffende blaaroppervlakte in stand te hou om optimale balans in die wingerd te verseker.
Talle faktore moet in berekening gebring word wanneer 'n strategie bepaal word, waaronder die vestiging van 'n maksimum doeltreffende gronddiepte vir die grondtipe om 'n wortelstelsel te ontwikkel. Dit sal die bufferkapasiteit van die wingerd in swakker toestande verseker en 'n hoër opbrengs deur die groeiseisoen kan volhou deur die regte onderstok en kultivar te kies.
Dit sluit in die optimale plantrigting van die rye om sonlig ten beste te benut en afkoeling van rye moontlik te maak. Voorts is die keuse van die wingerdspasiëring en opleistelsel belangrik asook die optimale oesopbrengs, en die beheer van botpotensiaal deur oortollige lote te verwyder.
Wingerdboupraktyke moet voorsiening maak vir sonligpenetrasie en absorpsie, asook omgewingsvriendelike insek- en onkruiddoderprogramme.
Stofberg sê die Soilmix-stelsel bring inligting bymekaar en vertolk dit. Dit word met die hulp van die geografiese inligtingstelsel (GIS) vergelyk met inligting van vorige jare om neigings te evalueer. Dié inligting word gebruik om variasies in inligting aan te toon en maak 'n visuele voorstelling van die analise-resultate moontlik. Met verloop van tyd en met opvolgende oesinligting, kan 'n model ontwikkel word deur verskeie GIS-inligtingslae te skep en die verhouding tussen die lae te bereken wat die oes-opbrengs voorspel.
Dit stel die boer in staat om die presiese hoeveelhede kunsmis, oesbeskermingsprodukte en water en die regte kultivar vir optimale opbrengs te bepaal. Sodra alle inligting versamel is, resultate ontleed en benodigdhede geïdentifiseer en bereken is, skuif die proses aan na die volgende fase, naamlik grondvoorbereiding.
Die unieke SM18/1-ploeg is die eerste in sy soort ter wêreld, en bestaan uit 'n vierwielvoertuig wat twee hidroulies aangedrewe dromme aan die agterkant dra. Die twee identiese dromme word simmetries weerskante van 'n meganiese arm gemonteer, wat met 'n hidrouliese toestel in die grond laat sak word. Elke drom het drie óf vier snylemme na gelang van die wydte of graad van die vermenging wat nodig is.
Grondvermenging vind plaas deur 'n dromrotasie wat die grond "wegskil" en dit tot 'n diepte van 1,2 m homogeniseer. Kunsmis en organiese materiaal wat op die grond gestrooi word, word ook eweredig deur die hele grondprofiel tot op die bewerkingsdiepte vermeng. Die masjien kan in bestaande boorde en wingerde gebruik word, waar die wortelstelsels so gesnoei word en hul vermoë om water en voedingstowwe te absorbeer, dramaties verbeter.
Regenerasie die winsgewendsste opsie
Swak presterende wingerde kan nuwe lewe gegee word pleks daarvan om dit uit te haal en te hervestig. Net wingerde wat werklik te oud en sieklik is, hoef verwyder te word.
Met nuut aangeplante wingerde kan dit ses tot sewe jaar duur om gelyk te speel. Die nuwe ploeg kan bestaande wingerde al die volgende oestyd 'n merkbaar hoër opbrengs laat lewer. Die koste van regenerasie is baie minder as die verlies aan winste voordat 'n nuwe wingerd sy gelykspeelpunt bereik, sê mnr. Koos Stofberg.
Die koste tussen die vestiging van nuwe wingerde en die regenerasie van bestaande wingerde kan bereken word as die volgende aanvaar word: Gestel die prys van Cabernet Sauvignon-druiwe is R5 000 per ton en 'n boer het 1 ha van dié druiwe wat 12 jaar oud is. Die opbrengs op die 1 ha het gedaal tot 5 ton/ha uit 'n moontlike 10 ton/ha. Gestel die produksiekoste beloop R20 000/ha per jaar. Die wins van die wingerd is dus R5 000/ha per jaar.
Die koste om 'n gevestigde wingerd uit te haal, die grondvoorbereiding, die herplant en vestiging van opleistelsels en vir die besproeiing beloop R80 000/ha oor twee jaar met die volgende kontantvloei-implikasies:
Deur die bestaande wingerd nuwe lewe te gee, word die oes dadelik verhoog sonder enige uitgawe. Die ploeg maak deel uit van die Soilmix-stelsel, en dan sal bogenoemde berekening só lyk:
Dit is dus duidelik dat die regenerasie van bestaande, gesonde wingerde verreweg die winsgewendste keuse is. Die maatskappy sal aanvanklik bestaande boerderytoerusting omskep of kontrakteurs gebruik om presisietoediening van kunsmis in wingerde en boorde te doen. Sy maatskappy sal die voorskrifkaarte opstel asook die vergelykings en algoritmes wat nodig is om bemestingaanbevelings te doen, sê Stofberg.
18 Junie 2004