
Nie een van die boere in hul omgewing wat die laaste jare na geenbewerking omgeskakel het, het weer teruggekeer na konvensionele bewerking toe nie, sê mnr. Hannes Otto, voorsitter van Ottosdal se geenbewerking-klub.
Dié studiegroep in Noordwes het pas saam met Graan SA ’n suksesvolle twee dae lange konferensie oor bewaringslandbou aangebied. Die konferensie het uit sy nate gebars en meer as 300 boere, landboukundiges en ander belangstellendes het dit bygewoon. Landbouweekblad was een van die borge.
Die dorp se geenbewerkingsklub is agt jaar gelede gebore toe Otto en ’n groep mede-boere Argentinië toe is om van boere dáár te leer. Talle saaiboere van die omgewing het intussen na geenbewerking oorgeskakel.
Otto sê die belangstelling het só gegroei dat hulle hoop om voortaan die konferensie ’n jaarlikse instelling te maak as ’n platform vir saaiboere in die westelike saaigebiede om inligting te deel. Baie meer vrae as antwoorde is beskikbaar oor watter praktyke optimaal vir hul gebied is, sê Otto.
Die regte manier om antwoorde te kry
“Baie in ons omgewing het al oorgeskakel, maar ons het nog geweldig baie om te leer, en kan nog baie verbeter. Die enigste manier hoe ons antwoorde gaan kry, is om inligting met mekaar te deel. Dit sal van onsself afhang of ons antwoorde kry. “Ons moet geenbewerking en bewaringslandbou in ons area self maak werk,” sê hy.
* Geenbewerking is een van die stukke gereedskap wat ’n saaiboer kan gebruik om sy produktiwiteit in ’n stelsel van bewaringslandbou te verhoog, sê mnr. Carlos Galarza, landbou-ingenieur en geenbewerkingspesialis van Argentinië se nasionale landbou-instituut, Inta. Hy was een van die sprekers op die konferensie op Ottosdal.
In Argentinië het dit van 20 tot 25 jaar geneem voordat geenbewerking wydverspreid deur die meeste boere aanvaar is. Die eerste proefnemings is in die jare tagtig daar gedoen. Hulle het tegnologie, meestal uit Noord-Amerika, vir Argentynse toestande aangepas. “Julle moet die tegnologie nou ook vir jul gebied aanpas,” het Galarza gesê.
Sedert die jare negentig, toe al hoe meer boere na geenbewerking begin omskakel het, het die oppervlakte onder geenbewerking in Argentinië byna jaarliks verdubbel.